Lukas 12:32-47 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

32. “Moet dus nie bang wees nie, klein kuddetjie. Want dit maak julle Vader baie gelukkig om die koninkryk aan julle te gee.

33. “Verkoop wat julle het, en gee vir dié wat behoeftig is. Dit sal vir julle ’n skat in die hemel opberg! En die beursies van die hemel kry nie gate in nie. Julle skat sal veilig wees – geen dief kan dit steel en geen mot dit vernietig nie.

34. “Waar jou skat is, dáár sal jou hart en gedagtes ook wees.”

35. “Wees geklee vir diens en goed voorberei,

36. asof julle wag vir julle meester om terug te kom van die bruilofsfees af. Dan sal julle gereed wees om die deur oop te maak sodra hy kom en klop.

37. Hy sal hulle wat gereed is en vir sy terugkoms sit en wag baie spesiaal behandel. Ek verseker julle, hy self sal hulle laat aansit, ’n voorskoot aantrek en hulle bedien terwyl hulle sit en eet!

38. Hy kan in die middel van die nag kom of net voor dagbreek. Maar wanneer hy ook al kom, hy sal sy dienaars wat gereed is baie spesiaal behandel.

39. “Weet dit: ’n Huiseienaar wat geweet het presies hoe laat ’n inbreker sou kom, sou nie toelaat dat by die huis ingebreek word nie.

40. Julle moet altyd gereed wees, want Ek, die Seun van die Mens, sal kom wanneer dit die minste verwag word.”

41. Petrus vra toe: “Here, is hierdie gelykenis net vir ons of vir almal?”

42. En Jesus het geantwoord: “Ek praat met enige getroue, verstandige slaaf aan wie die meester die verantwoordelikheid opgedra het om sy huishouding te bestuur en sy gesin te voed.

43. As die meester terugkom en sien dat die slaaf ’n goeie werk gedoen het, sal daar ’n beloning wees.

44. Ek verseker jou, die meester sal die slaaf aanstel oor alles wat hy besit.

45. Maar as die slaaf dink: ‘My meester sal nie binnekort terug wees nie,’ en hy begin die ander slawe verdruk en gaan hom te buite met kos en drank –

46. wel, die meester sal onaangekondig en onverwags terugkom. Hy sal die slaaf folter en hom laat deel in die lot van die ontroues.

47. Die slaaf sal swaar gestraf word, want alhoewel hy sy plig geken het, het hy dit nie gedoen nie.

Lukas 12