21. Toe is Jesus vervul met die blydskap van die Heilige Gees en het gesê: “O Vader, Here van hemel en aarde, dankie dat U die waarheid verberg het vir dié wat in hulle eie oë so wys en slim is, en dit aan die kindertjies bekendgemaak het. Ja, Vader, dit het U behaag om dit só te doen.
22. “My Vader het My gesag oor alles gegee. Niemand ken werklik die Seun nie, behalwe die Vader, en niemand ken werklik die Vader nie, behalwe die Seun en hulle aan wie die Seun Hom wil openbaar.”
23. Toe hulle alleen was, het Hy na die dissipels gedraai en gesê: “Hoe bevoorreg is julle om te sien wat julle sien!
24. Ek sê vir julle, baie profete en konings het begeer om te sien en te hoor wat julle sien en hoor, maar hulle kon nie.”
25. Eendag het ’n wetskenner na vore gekom om Jesus te toets deur Hom hierdie vraag te vra: “Leermeester, wat moet ek doen om die ewige lewe te ontvang?”
26. Jesus het geantwoord: “Wat sê die wet van Moses? Wat lees jy daarin?”
27. Die man het geantwoord: “‘Jy moet die Here jou God liefhê met jou hele hart, jou hele siel, al jou krag en jou hele verstand.’ En: ‘Jy moet jou medemens liefhê soos jouself.’”
28. “Reg!” het Jesus vir hom gesê. “Doen dit en jy sal lewe!”
29. Maar die man wou homself regverdig en vra toe vir Jesus: “En wie is my medemens?”
30. En Jesus antwoord: “’n Joodse man was op reis van Jerusalem na Jerigo toe hy deur rowers aangeval is. Hulle het sy klere uitgetrek, hom aangerand en halfdood langs die pad laat lê. En toe is hulle vort.
31. “Toevallig kom daar ’n Joodse priester verby, maar toe hy die man daar sien lê, het hy aan die ander kant by hom verbygegaan.
32. “So het ook ’n Leviet daar aangekom, die man een kyk gegee en ook aan die ander kant verbygegaan.
33. “Toe het ’n Samaritaan verbygekom, en toe hy die man sien, het hy hom innig jammer gekry.
34. Die Samaritaan kniel toe langs hom, behandel sy wonde met medisyne, en verbind dit. Toe het hy die man op sy eie donkie gehelp en hom na ’n herberg geneem en daar verder versorg.
35. Die volgende dag gee hy vir die herbergier twee silwermuntstukke en vra hom om die man te versorg. ‘As die rekening meer as dit is,’ het hy gesê, ‘sal ek die verskil betaal wanneer ek weer hierlangs kom.’
36. “Nou, watter van hierdie drie sou jy sê, was ’n naaste vir die man wat deur die rowers aangeval is?” het Jesus gevra.
37. Die man het geantwoord: “Die een wat aan hom medelye bewys het.” Toe het Jesus gesê: “Gaan nou, en doen jy dieselfde.”