15. Die priester moet die verklaring maak sodra hy ’n rou seer sien, want rou sere is ’n aanduiding van ’n aansteeklike velsiekte.
16. As die rou sere gesond word en wit word soos die res van die vel, moet die persoon teruggaan na die priester toe.
17. As dit na nog ’n ondersoek blyk dat die aangetaste gedeeltes inderdaad heeltemal wit geword het, sal die priester die persoon rein verklaar.
18. “As iemand ’n sweer aan sy vel het wat gesond begin word,
19. maar daar bly ’n wit swelsel of ’n rooierige wit kol oor, moet die persoon na die priester gaan om ondersoek te word.
20. As die priester bevind dat die siekte meer as net veldiep is, en as die hare op die aangetaste deel wit geword het, moet die priester so ’n persoon onrein verklaar. Dit is dan ’n aansteeklike velsiekte wat ontstaan het uit die sweer.
21. As die priester sien daar is geen wit hare op die aangetaste deel nie, en as dit nie lyk na iets meer as net veldiep nie en dat die ontsteking aan die opklaar is, moet die priester die persoon vir sewe dae onder kwarantyn sit.
22. As die aangetaste deel gedurende daardie tyd verder op die vel versprei, moet die priester die persoon onrein verklaar, want dan is dit ’n aansteeklike velsiekte.
23. As die plek nie erger word en nie versprei nie, is dit net die litteken van die sweer en sal die priester die persoon rein verklaar.
24. “As iemand ’n brandwond het en die rou area verander van kleur deur óf rooi-wit óf wit te word,
25. moet die priester dit ondersoek. As die hare op die aangetaste deel wit word en die probleem lyk na meer as net veldiep, het daar ’n aansteeklike velsiekte ontstaan in die brandwond. Die priester moet dan die persoon onrein verklaar, want dit is duidelik ’n aansteeklike velsiekte.
26. As die priester ontdek daar is geen wit hare op die aangetaste deel nie, die seer niks meer as net veldiep is nie, en dat dit besig is om op te klaar, moet die priester die besmette persoon vir sewe dae onder kwarantyn sit.
27. As hy hom na sewe dae weer ondersoek en dit blyk dat die aangetaste deel aan die einde van die periode verder op die vel versprei het, moet die priester die persoon onrein verklaar, want dit is duidelik ’n aansteeklike velsiekte.
28. As die aangetaste deel nie verander of verder op die vel versprei het nie en aan die opklaar is, is dit net ’n litteken van die brand. Die priester moet so ’n persoon rein verklaar.
29. “As enigiemand, of dit nou ’n man of vrou is, ’n seerplek aan die kop of ken het,
30. moet die priester die ontsteking ondersoek. As dit lyk na iets meer as net veldiep, en fyn, geel hare word op die aangetaste deel gevind, moet die priester so ’n persoon onrein verklaar. Die ontsteking is ’n aansteeklike velsiekte van die kop of ken.
31. As die priester se ondersoek egter wys dat die ontsteking net veldiep is sonder enige swart hare op die aangetaste deel, moet so ’n persoon onder kwarantyn geplaas word vir sewe dae.
32. As die aangetaste deel nie versprei het nie, daar nie geel hare verskyn het nie, en as die infeksie nie lyk na iets meer as net veldiep nie,
33. moet die besmette persoon alle hare afskeer, behalwe die hare op die aangetaste gedeeltes. Die priester moet dan die persoon vir nog sewe dae onder kwarantyn plaas.
34. Hy moet dan die infeksie weer op die sewende dag ondersoek. As dit nie versprei het nie en dit lyk nie na iets meer as net veldiep nie, moet die priester die persoon rein verklaar. Nadat sy klere gewas is, sal hy rein wees.