17. in ’n boot geklim en na die oorkant van die meer, na Kapernaum toe begin vaar. Dit was al goed donker, maar Jesus het nog nie by hulle aangesluit nie.
18. En die meer self het onstuimig gedein as gevolg van ’n sterk wind wat gewaai het.
19. Toe hulle ongeveer vyf of ses kilometer weg geroei het, sien hulle Jesus op die water loop tot baie naby aan die boot, en hulle het vreesbevange geword.
20. Jesus sê egter vir hulle: “Dit is Ek, hou op bang wees.”
21. Hulle was gretig om Hom in die skuit te neem en die boot het onmiddellik by die oewer aangekom waarheen hulle gevaar het.
22. Die volgende dag het die skare wat oorkant die meer gestaan het, gesien dat daar net een bootjie is. Hulle het geweet dat Jesus nie saam met sy dissipels in die boot geklim het nie, maar dat sy dissipels alleen weggevaar het.
23. Daar het toe ook ander bootjies van Tiberias af aangekom, naby die plek waar die mense die brood geëet het nadat daarvoor gedank is.
24. Toe die skare sien dat Jesus nie daar is nie en sy dissipels ook nie, het hulle self in bootjies geklim en na Kapernaum toe oorgevaar op soek na Jesus.
25. Toe hulle Hom oorkant die meer aantref, vra hulle vir Hom: “Rabbi, wanneer het u hier aangekom?”
26. Jesus het hulle geantwoord: “Ek verseker julle, julle soek My op, nie omdat julle die wondertekens gesien het nie, maar omdat julle van die brode geëet en versadig geword het.
27. Julle moenie werk vir die kos wat vergaan nie, maar vir dié blywende kos wat lei tot die ewige lewe. Dit sal Ek, die Seun van die Mens, aan julle voorsien, want God die Vader het My daartoe bestem.”