22. Pilatus het geantwoord: “Wat ek geskryf het, het ek geskryf.”
23. Die soldate het, toe hulle Jesus gekruisig het, sy bo-klere geneem en daarvan vier dele gemaak, vir elke soldaat ’n deel. Hulle het ook die drarok geneem. Dit was ’n naatlose kleed, van bo tot onder aaneen geweef.
24. Hulle het toe vir mekaar gesê: “Moenie dit skeur nie, laat ons liewer daaroor loot en só bepaal wie s’n dit sal wees.” Dit is gedoen sodat die Skrif vervul kan word:“Hulle het my bo-klere onder mekaar verdeelen oor my onderkleed het hulle die lot gewerp.”Tot sover dan wat die soldate gedoen het.
25. Naby die kruis van Jesus het sy ma, sy ma se suster en Maria, die vrou van Klopas, en Maria Magdalena gestaan.
26. Toe Jesus sy ma sien, en die lieflingdissipel wat by sy ma staan, sê Hy vir haar: “Vrou, dáár is u seun.”
27. Daarna sê Hy vir die dissipel: “Kyk, dáár is jou ma.” Van daardie uur af het die dissipel Jesus se ma by hom aan huis geneem.
28. Hierna het Jesus, terwyl Hy weet dat alles reeds afgehandel is en sodat die Skrif vervul kan word, gesê: “Ek is dors.”
29. ’n Kruik vol suur wyn het daar gestaan. Die soldate het toe ’n spons vol suur wyn op ’n hisoptak gesit en dit teen sy mond gehou.
30. Toe Jesus die suur wyn proe, het Hy gesê: “Dit is nou afgehandel!” Toe het Hy sy kop vooroor laat val en sy asem uitgeblaas.
31. Aangesien dit die voorbereiding vir die Sabbat was, wou die Jode nie hê dat die liggame op die Sabbat aan die kruis moes bly hang nie, want daardie spesifieke Sabbat was ’n belangrike een. Hulle het Pilatus toe gaan vra dat die kruiselinge se bene gebreek en die liggame verwyder moes word.
32. Die soldate het toe gekom en die bene van die eerste een gebreek en ook dié van die ander een wat saam met Jesus gekruisig was.
33. Toe hulle by Jesus kom en sien dat Hy alreeds gesterf het, het hulle nie sy bene gebreek nie.
34. Een van die soldate het egter sy spies in Jesus se sy gesteek en daar het dadelik bloed en water uitgevloei.