Johannes 17:1-11 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

1. Jesus het hierdie dinge gesê, en toe sy oë hemelwaarts gerig en gesê: “Vader, die uur het aangebreek. Verheerlik u Seun sodat die Seun U kan verheerlik.

2. U het aan die Seun volmag gegee oor die hele mensdom om aan almal wat U aan Hom gegee het, die ewige lewe te gee.

3. En die inhoud van die ewige lewe is dat hulle U ken, die enigste ware God, en Jesus Christus wat U gestuur het.

4. Ek het U op aarde verheerlik deur die werk te voltooi wat U My gegee het om te doen.

5. Verheerlik My dan nou ook by Uself, Vader, met die heerlikheid wat Ek by U gehad het nog voordat die wêreld bestaan het.

6. “Ek het u Naam bekendgemaak aan die mense wat U My uit die wêreld gegee het. Hulle was U s’n en U het hulle aan My toevertrou en hulle het u boodskap gehoorsaam uitgevoer.

7. Hulle besef nou dat alles wat U My gegee het van U af kom,

8. want die woorde wat U My gegee het, het Ek net so aan hulle oorgedra. Hulle het dit aanvaar en besef dat Ek regtig van U af gekom het en hulle het vas geglo dat U My gestuur het.

9. Ek tree vir hulle in. Ek bid nie vir die wêreld nie, maar vir dié mense wat U aan My gegee het omdat hulle U s’n is.

10. Alles wat Myne is, is ook U s’n, en wat U s’n is, behoort ook aan My, en Ek is deur hulle verheerlik.

11. Ek is nie langer in hierdie wêreld nie, maar hulle is nog in hierdie wêreld. Ek is op pad na U toe. Heilige Vader, bewaar hulle in u Naam wat U aan My gegee het sodat hulle net soos Ons een kan wees.

Johannes 17