5. ’n Vreemdeling sal hulle glad nie volg nie, maar van hom af wegvlug omdat hulle nie die vreemdeling se stem herken nie.”
6. Hierdie beeld het Jesus vir hulle vertel. Hulle kon egter nie insien wat Hy vir hulle wou sê nie.
7. Toe het Jesus weer ’n keer gesê: “Ek verseker julle, Ek is die deur vir die skape.
8. Almal wat voor My gekom het, is diewe en rowers; maar die skape het nie op hulle reageer nie.
9. Ek is die deur; as iemand deur My ingaan, sal hy beslis verlos word. Hy sal ingaan en uitgaan en groen weiding kry.
10. Die dief kom vir niks anders nie as om te steel, dood te maak en te vernietig. Ék het gekom sodat hulle lewe kan hê, ja, sodat hulle dit oorvloedig het.
11. “Ek is die Goeie Herder. Die Goeie Herder offer sy lewe op vir die skape.
12. ’n Kontrakwerker is hoegenaamd nie ’n herder nie, want dit is nie sy eie skape nie. As hy ’n wolf sien aankom, los hy die skape net daar en vlug weg en die wolf vang die skape en verwilder hulle.
13. Hy is ’n tipiese kontrakwerker en gee niks vir die skape om nie.
14. Ek is die Goeie Herder. Ek ken my skape en hulle herken My,
15. net soos die Vader My ken en Ek ook die Vader ken. En Ek gee my lewe vir die skape.
16. Ek besit ook nog ander skape wat nie van hierdie kraal is nie. Ek moet hulle ook versorg. Hulle sal na my stem luister en hulle sal een trop wees met een herder.
17. “Om hierdie rede het die Vader My lief omdat Ek my lewe gee om dit weer op te neem.
18. Niemand ontneem My my lewe nie, maar Ek offer dit uit my eie op. Ek het die volmag om dit op te offer en Ek het die volmag om dit weer op te neem. Dit is die opdrag wat Ek van die Vader ontvang het.”
19. Daar het toe nog meer verdeeldheid onder die Jode gekom oor hierdie woorde van Jesus.
20. Baie uit hulle geledere het gesê: “Hy is in die mag van ’n bose gees en hy is mal. Waarom luister julle nog na hom?”