Johannes 10:11-18 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

11. “Ek is die Goeie Herder. Die Goeie Herder offer sy lewe op vir die skape.

12. ’n Kontrakwerker is hoegenaamd nie ’n herder nie, want dit is nie sy eie skape nie. As hy ’n wolf sien aankom, los hy die skape net daar en vlug weg en die wolf vang die skape en verwilder hulle.

13. Hy is ’n tipiese kontrakwerker en gee niks vir die skape om nie.

14. Ek is die Goeie Herder. Ek ken my skape en hulle herken My,

15. net soos die Vader My ken en Ek ook die Vader ken. En Ek gee my lewe vir die skape.

16. Ek besit ook nog ander skape wat nie van hierdie kraal is nie. Ek moet hulle ook versorg. Hulle sal na my stem luister en hulle sal een trop wees met een herder.

17. “Om hierdie rede het die Vader My lief omdat Ek my lewe gee om dit weer op te neem.

18. Niemand ontneem My my lewe nie, maar Ek offer dit uit my eie op. Ek het die volmag om dit op te offer en Ek het die volmag om dit weer op te neem. Dit is die opdrag wat Ek van die Vader ontvang het.”

Johannes 10