Jesaja 14:14-27 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

14. Ek sal opklim tot in die hoogste hemele. Soos die Allerhoogste sal ek word.’

15. Maar in plaas daarvan sal jy in die doderyk beland, in sy diepste deel.

16. Almal daar sal jou aangaap en vra: ‘Kan dit die man wees wat die aarde met sy koninkryke geskud het?

17. Is dit die man wat die wêreld in ’n woestyn verander het? Is dit die koning wat die wêreld se grootste stede platgevee het en geen genade vir sy gevangenes gehad het nie?’

18. “Al die konings van die nasies is met eer begrawe,elkeen in sy eie graf.

19. Maar jou lyk word in die graf gegooi soos ’n boomtak wat klaar verrot is. Jy lê in ’n massagraf saam met die lyke van dié wat in die oorlog dood is. Soos ’n lyk wat vertrap word,

20. sal jy nie ’n behoorlike begrafnis kry nie. Want jy het jou eie volk verwoes en jou eie mense geslag. Mag jou seun jou nie as koning opvolg nie!

21. Maak hierdie booswig se kinders dood sodat hulle nie opstaan en die land beset of die stede van die wêreld herbou nie!”

22. So sê die Here, die Almagtige: “Ek self het teen hom opgestaan! Ek sal sy kinders en kleinkinders doodmaak, sodat hulle nooit op Babilon se troon sit nie.

23. Ek maak Babilon verlate, ’n land vir ystervarke, vol moerasse en vleie. Met ’n besem van vernietigingvee Ek die land uit. Ek, die Here, die Almagtige,het so gesê!”

24. Die Here, die Almagtige,het gesweer: “Dit sal gebeur soos Ek dit beplan het, volgens my doel.

25. Ek sal die Assiriërs vertrap wanneer hulle in my land is. Ek sal hulle op my berge verpletter. My volk sal nie langer hulle slawe wees nie.

26. “Ek het ’n plan vir die hele wêreld, want my mag geld oor alle nasies.

27. Die Here, die Almagtige, het besluit, en wie sal sy planne kan verander? Wanneer sy hand beweeg, wie kan dit terugbring?”

Jesaja 14