Jesaja 14:1-11 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

1. Die Here sal genade bewys aan die kinders van Jakob. Israel sal steeds sy volk wees. Hy sal hulle terugbring en weer laat bly in hulle eie land. Vreemde mense van baie verskillende nasies sal kom en deel word van die volk Israel.

2. Die volke van die wêreld sal die Here se volk help om terug te kom, en die mense wat in hulle land kom woon, sal hulle dien. Dié wat Israel gevang het, sal gevang word en Israel sal oor sy vyande regeer.

3. In daardie wonderlike dag as die Here sy volk laat rus van lyding, verwarring en wrede slawerny,

4. sal jy die koning van Babel spot. Jy sal sê: “Die magtige is vernietig. Ja, sy astrantheid het opgehou.

5. Want die Here het jou bose mag verpletter en jou regering laat val.

6. Jy het mense vervolg en hulle aanhou slaan sonder om op te hou. In jou woede het jy nasies onderwerp met genadelose aggressie.

7. Nou is die hele aarde rustig en stil. Die mense kan weer sing.

8. Selfs die bome van die bos, die sipresse en seders van Libanonberg, sing hierdie vreugdevolle lied: ‘Jou mag is gebreek! Niemand gaan weer kom en ons afkap nie!’

9. “In die doderykis daar opwinding oor jou aankoms. Die dooies, ook wêreldleiers en magtige heersers staan op om jou te verwelkom.

10. Hulle roep almal met een stem uit: ‘Nou is jy net so swak soos ons.Jy het net soos ons geword!

11. Jou mag en krag het verdwyn. Dis saam met jou begrawe. Die vrolike musiek in jou paleishet opgehou.Die bed onder jou is maaiers, jy maak jou toe met wurms.’

Jesaja 14