18. Hulle het ook van die ander kopervoorwerpe in die tempel saamgevat – die potte, grawe, messe, komme en reukwerkbakke.
19. Hulle het ook die kleiner bakke, vuurpanne, potte, kandelare, komme en bakke vir die drankoffers gevat. Die kaptein van die lyfwag het al die voorwerpe van silwer of goud saamgeneem.
20. Van die kopervoorwerpe was so swaar dat dit nie geweeg kon word nie. Dit was voorwerpe wat koning Salomo destyds vir die tempel laat maak het. Dit was die twee koperpilare, die koperbad, die twaalf bulle onder hierdie bad en die voetstukke van die wasbakke.
21. Elkeen van hierdie pilare was net oor die nege meter hoog en ses meter in omtrek. Die pilare was aan die binnekant hol, met die wande nege sentimeter dik.
22. Die koperkopstuk bo-op elkeen van hierdie pilare was twee en ’n half meter hoog. Die kopstuk was reg rondom versier met koperafbeeldings van granate. Die tweede pilaar het net so gelyk.
23. Aan die kante was daar 96 granate. As dié in die vlegwerk bo bygetel word, was dit altesaam 100 granate.
24. Nebusaradan het die hoëpriester Seraja, asook die priester tweede in rang, Sefanja, saam met hom geneem. Hy het ook drie van die deurwagte saamgeneem.
25. Van die mense wat nog in die stad was, het Nebusaradan ’n offisier van die leër en sewe van die koning se raadgewers gevange geneem. Hy het ook nog die sekretaris van die offisier wat verantwoordelik was om soldate vir die leër te werf, gevange geneem. Verder het hy 60 ander mense in die stad gevang en saamgevat.
26. Nebusaradan het al hierdie mense na die koning van Babel in Ribla gebring.