10. Die Here sê: “Julle sê: ‘Hierdie plek is verwoes. Al die mense en die diere het verdwyn.’ Maar mense sal weer bly wees en vrolik lag in die leë strate van Jerusalem en in die dorpe van Juda waar nou geen mens woon of diere is nie.
11. Die vrolike stemme van bruidegomme en bruide sal weer opklink. Mense sal ook weer opgewekte liedere sing om hulle dankbaarheid teenoor die Here te bewys. Hulle sal by die tempel sing: “‘Bring lof aan die Here,die Almagtige, want die Here is goed. Sy liefde en trou hou nooit op nie!’“Ek sal die omstandighede in die land verander sodat dit weer soos vroeër sal wees,” sê die Here.
12. Die Here, die Almagtige, sê: “Hierdie land is nou leeg. Al die mense en die diere is weg uit al die dorpe. Maar daar sal weer herders wees wat hulle skape sal laat wei.
13. Daar sal weer groot skaaptroppe wees in die dorpe van die heuwelgebied, die Laeveld en die Negev in die suide, in die grondgebied van Benjamin, in die omgewing van Jerusalem en al die dorpe van Juda. Ek, die Here, sê dit sal gebeur!”
14. Die Here sê ook: “Die tyd breek aan dat Ek al die beloftes sal vervul wat Ek aan Israel en Juda gemaak het.
15. “Dan sal Ek ook ’n wettige erfgenaam van Dawid koning maak. Hy sal doen wat reg is en sorg dat regverdigheid in die land heers.
16. In dié tyd sal Hy Juda red en Jerusalem ’n veilige plek maak sodat mense daarin kan woon. En die mense sal die stad noem: ‘Die Here doen reg aan ons!’”
17. Die Here sê: “Daar sal altyd iemand op die troon van die huis van Israel sit as koning oor Israel.
18. Daar sal ook altyd Levitiese priesters wees wat brandoffers, graanoffers en ander offers vir My sal bring.”
19. Die Here het vir Jeremia ’n boodskap gegee. Hy het gesê: