Jeremia 31:10-25 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

10. “Nasies, luister na die woord van die Here,vertel dit in veraf kuslande. Die Here het Israel uitmekaar laat spat, Hy sal hulle weer byeenbring. Soos ’n herder sy skape oppas, so sal Hy hulle versorg.

11. Die Here het Israel vrygemaak,hulle losgekoop uit die mag van ’n vyand sterker as hulle.

12. Hulle sal terugkom en vrolik sing op die hoogtes van Jerusalem. Hulle sal straal van blydskap oor die goedheid van die Here.Hy gee graan, nuwe wyn, olie,lammers en beeste. Hulle lewens sal wees soos ’n tuin met volop water. Hulle sal nie meer rede hê om hartseer te wees nie.

13. Dan sal die meisies van blydskap dans. Die mans, oud en jonk, sal deel in die vrolikheid. Ek sal hulle gehuil in blydskap verander. Ek sal hulle troos. Ek sal hulle vreugde gee in die plek van hartseer.

14. Ek sal aan die priesters oorvloed gee om te offer.My volk sal tevrede voel oor die goeie dinge wat Ek vir hulle gee,” sê die Here.

15. Die Here sê verder: “Hoor die geluid van hartseer en droewige gehuil uit Rama. Dit is Ragel wat huil oor haar kinders.Sy laat niemand toe om haar te troos nie,want haar kinders is dood.”

16. Maar die Here sê: “Hou op huil en droog af jou trane.Ek sal jou beloon vir jou moeite,” sê die Here. “Jou kinders sal terugkom uit die land van die vyand.

17. Daar is hoop vir die toekoms,” sê die Here. “Jou kinders sal terugkomna hulle land toe.

18. “Ek het Israel hoor kla: ‘U het ons swaar gestraf,maar ons het dit verdien.Ons was soos wilde kalwers wat nog moes leer.Bring ons terug en herstel ons, want U is die Here ons God.

19. Ons het afgedwaal, maar ons is spyt daaroor. Ons kon onsself skop dat ons so dom was. Nou is ons skaam en verleë oor wat ons in ons jong dae gedoen het.’”

20. Die Here sê: “Is Israel dan nie meer my dierbare seun nie? Is hy nie my lieflingkind nie? Selfs al moes Ek hom straf, is hy nie uit my gedagtes nie. Omdat Ek oor hom besorg is, sal Ek My oor hom ontferm.

21. “Plant vir jou rigtingwysers. Stel vir jou bakens vas. Neem kennis van die pad waarlangs jy gegaan het. Kom terug, jong vrou Israel! Kom terug na jou eie dorpe.

22. Hoe lank sal jy nog hink op twee gedagtes,ontroue dogter? Die Here gaan iets nuuts op aarde laat gebeur: ’n Vrou sal ’n man beskerm.”

23. Die Here, die Almagtige, die God van Israel, sê: “As Ek hulle terugbring uit hulle ballingskap, sal die mense in Juda en in hulle dorpe weer sê: ‘Die Here seën jou, tuiste van geregtigheid, heilige berg!’

24. Al die mense in die dorpe en in die gebied van Juda, die boere en die herders, sal in rus en vrede saambly.

25. Want Ek sal nuwe krag gee aan dié wat moeg is en die swakkes versterk.”

Jeremia 31