Jeremia 26:9-13 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

9. Hulle het gevra: “Wie gee jou die reg om namens die Here te profeteer en te sê: Wat met Silo gebeur het, sal ook met hierdie stad gebeur? Wie is jy om te sê dat hierdie stad verlate en sonder enige inwoners sal wees?” Al die mense het in die tempel van die Here om Jeremia saamgedrom.

10. Toe die amptenare van Juda hierdie boodskap hoor, het hulle haastig van die paleis na die Here se tempel toe gegaan. Hulle het in die Nuwe Ingang van die tempel gaan sit.

11. Die priesters en die profete het toe hulle saak aan die leiers van Juda en al die mense gestel. Hulle het gesê: “Hierdie man moet die doodstraf kry! Julle het met julle eie ore gehoor hoe hy verraad pleeg, want hy het teen hierdie stad geprofeteer.”

12. Toe het Jeremia homself teenoor die leiers en die hele volk begin verdedig. Hy het gesê: “Die Here het my gestuur om teen hierdie tempel en hierdie stad te profeteer. Julle het alles gehoor wat ek vir julle gesê het.

13. Maar as julle begin reg lewe, goeie dinge doen en die Here gehoorsaam, sal Hy van plan verander en julle nie meer kwaad aandoen soos Hy gedreig het nie.

Jeremia 26