21. Die inwoners van Egipte, oor die lengte en breedte van die land, het na die stede toe verskuif.
22. Die enigste landerye wat Josef nie opgekoop het nie, was dié van die priesters, want hulle het hulle kos van die farao gekry om van te leef sodat dit nie nodig was om hulle eiendom te verkoop nie.
23. Josef sê toe vir die mense van die land: “Kyk, ek het julle en julle landerye vir Farao gekoop. Ek sal julle nou voorsien van saad sodat julle dit kan plant.
24. Wanneer julle dan oes, sal een vyfde daarvan aan Farao behoort. Julle kan vier vyfdes vir julleself hou en dit gebruik vir saad vir volgende jaar en as kos vir julle, julle huismense en julle kinders.”
25. “U het ons lewens gered!” sê hulle. “Laat dit wees soos u goeddink. Ons sal Farao se slawe wees.”
26. Josef het toe vir die hele Egipte bepaal dat die farao een vyfde van die opbrengs op sy landerye moet kry. Dis ’n bepaling wat nog steeds geld. Omdat die farao nie die landerye van die priesters oorgeneem het nie, was hulle vrygestel van hierdie betaling.
27. Die Israeliete het hulle in Egipte, in die Gosenstreek, gevestig. Hulle het eiendom daar verkry en hulle getalle het vinnig toegeneem.
28. Jakob het nog sewentien jaar na sy aankoms in Egipte geleef. Hy het dus 147 jaar oud geword.
29. Toe sy einde begin naderkom, laat roep hy vir Josef en sê vir hom: “Bewys my ’n laaste guns. Belowe my met ’n eed dat jy goed sal wees vir my en my nie in Egipte sal begrawe nie.
30. Wanneer ek sterf, neem my liggaam uit Egipte weg en begrawe my by my voorouers.” Josef belowe toe dat hy dit sou doen.
31. “Nee, lê ’n eed af dat jy dit sal doen,” dring Jakob daarop aan. Josef het hom toe met ’n eed beloof. Daarop het Jakob in aanbidding by die koppenent van die bed gebuig.