8. Teen die aand hoor hulle hoe die Here God in die tuin loop. Hulle kruip toe weg tussen die bome.
9. Die Here God het toe na die mens geroep: “Waar is jy?”
10. Hy antwoord: “Ek het U hoor aankom in die tuin en gaan wegkruip. Ek was bang omdat ek sonder klere is.”
11. “Wie het vir jou gesê dat jy sonder klere is?” vra die Here God. “Het jy dan van die boom geëet wat Ek jou beveel het om nie te eet nie?”
12. “Ja,” erken die mens, “dit was die vrou wat U aan my gegee het wat die vrugte vir my aangebied het, en toe het ek daarvan geëet.”
13. Daarop vra die Here God vir die vrou: “Hoe kon jy so ’n ding doen?”“Die slang het my bedrieg,” antwoord sy. “Dis hoekom ek geëet het.”
14. Toe sê die Here God vir die slang: “Omdat jy dit gedoen het, is jy vervloek onder al die diere op die aarde. Op jou pens sal jy seil en stof sal jy eet so lank as wat jy lewe.
15. Van nou af sal jy en die vrou vyande wees. Dit geld ook vir jou nageslag en haar nageslag. Haar nageslag sal jou kop inslaan en jy sal hom noodlottig aan die hakskeen byt.”
16. Vir die vrou sê Hy: “Ek sal jou swangerskap moeilik maak; met pyn en lyding sal jy kinders in die wêreld bring. Jou begeerte sal na jou man wees, maar hy sal oor jou heers.”
17. Vir die mens sê Hy: “Jy het jou deur jou vrou laat ompraat en van die vrugte geëet wat Ek jou verbied het om te doen. Daarom vervloek Ek die grond. Jou hele lewe lank sal jy met swaarkry sukkel om ’n bestaan daaruit te maak.
18. Dit sal vir jou dorings en dissels oplewer en jy sal van die plante van die veld eet.
19. Jou hele lewe lank, tot die einde van jou dae, sal jy met moeite werk om iets te hê om te eet. Aan die einde van jou lewe sal jy weer terugkeer na die grond waaruit jy geneem is. Want jy is van stof gemaak en jy sal weer stof word.”
20. Die mens het sy vrou Eva genoem omdat sy die moeder sou word van alle mense op die hele aarde.
21. Toe het die Here God vir die mens en sy vrou klere van vel gemaak en hulle dit laat aantrek.
22. Daarna sê die Here God: “Die mens het nou soos een van Ons geword deurdat hulle ook weet van goed en kwaad. Wat sal gebeur as hulle van die vrugte van die boom van die lewe vat en eet? Hulle sal dan vir altyd lewe!”