Genesis 27:22-29 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

22. Jakob het nader aan sy pa gaan staan. Isak voel toe aan hom en sê: “Die stem klink soos Jakob s’n, maar die hande is dié van Esau.”

23. Hy kon Jakob nie herken nie omdat Jakob se hande net so harig soos dié van Esau gevoel het. Isak seën toe vir Jakob.

24. “Is jy regtig my seun Esau?” vra hy.“Natuurlik, Pa!” antwoord Jakob.

25. Toe sê Isak: “Bring vir my die wildsvleis sodat ek dit kan eet. Dan sal ek jou my seën gee.” Jakob het dit vir hom gebring en Isak het geëet. Hy het ook die wyn gedrink wat Jakob bedien het. Toe sê Isak:

26. “Kom nader en soen my, my seun.”

27. Jakob gaan toe nader en soen hom. Toe Isak sy klere ruik, was hy tevrede en het hy sy seun geseën. Hy het gesê: “Die reuk van my seun is die geur van die veld wat die Here geseën het.

28. Mag God vir jou die dou van die hemel en die vrugbaarheid van die aarde gee sodat jy goeie oeste van graan en wyn sal hê.

29. Mag baie nasies jou dien. Jy sal heers oor jou familie en jou broers sal voor jou buig. Almal wat jou vervloek, sal self vervloek wees, en almal wat jou seën, sal ook geseën word.”

Genesis 27