Genesis 26:18-28 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

18. Hy het die putte wat sy pa gegrawe het, maar wat die Filistyne ná Abraham se dood toegegooi het, weer oopgegrawe. Isak het dieselfde name vir die putte gegee as wat Abraham vir hulle gegee het.

19. Sy skaapwagters het ook in Gerarlaagte gegrawe en ’n sterk fontein gekry.

20. Maar die plaaslike skaapwagters het die fontein vir hulleself toegeëien. “Dis ons water,” het hulle gesê en met Isak se skaapwagters rusie gemaak. Isak noem toe die put Esek omdat hulle daaroor rusie gemaak het.

21. Isak se mense het toe ’n ander put gegrawe, maar die Filistyne het ook daaroor beswaar gemaak. Isak noem dit toe Sitna.

22. Hy het weer verskuif en nog ’n put gegrawe. Hierdie keer het die plaaslike mense hom met rus gelaat. Hy noem toe die put Rehobot, “want,” het hy gesê, “uiteindelik het die Here vir ons ruimte gemaak. Hier sal ons nou voorspoedig wees.”

23. Isak het daarvandaan na Berseba toe getrek.

24. Met sy aankoms daar het die Here die aand aan hom verskyn en gesê: “Ek is die God van jou pa Abraham. Moenie bang wees nie, want Ek is by jou en sal jou seën. Ek sal jou nageslag baie maak en hulle sal ’n groot nasie word. Ek sal dit doen omdat Ek dit vir Abraham, my dienskneg, belowe het.”

25. Toe bou Isak daar ’n altaar en aanbid die Here. Hy het daar kamp opgeslaan en sy slawe het daar ’n put gegrawe.

26. Op ’n dag kry Isak besoekers uit Gerar. Dit was koning Abimelek saam met sy raadgewer Agussat en Pikol, die bevelvoerder van sy leër.

27. “Hoekom het julle na my toe gekom?” vra Isak hulle. “Julle haat my en het my van julle af weggestuur.”

28. Hulle antwoord hom: “Dis vir ons duidelik dat die Here met jou is. Daarom het ons gekom om ’n verdrag met jou te sluit.

Genesis 26