Genesis 24:31-43 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

31. “Kom saam en bly oor by ons. U is ’n geseënde van die Here. Hoekom sal u hier buitekant die dorp bly staan terwyl ek alreeds vir u slaapplek reggemaak het? Ek het ook plek reg vir u kamele.”

32. Die man gaan toe saam met Laban huis toe. Laban het die kamele afgesaal, vir hulle voer gegee en strooi om op te slaap. Hy het ook vir die slaaf en die mense by hom water gegee om te was.

33. Daarna is aandete bedien. Maar die slaaf sê: “Ek wil nie eet voordat ek vertel het waarom ek hierheen gekom het nie.”“Goed,” sê Laban, “vertel ons wat jy kom doen het.”

34. “Ek is Abraham se slaaf,” verduidelik hy.

35. “Die Here het hom baie geseën sodat hy ryk geword het. Die Here het hom troppe kleinvee en beeste gegee, ’n fortuin aan goud en silwer, en baie slawe, kamele en donkies.

36. “Toe Sara, my meester se vrou, alreeds bejaard was, het sy geboorte gegee aan sy seun. My meester het alles wat hy besit aan hom bemaak.

37. Hy het my met ’n eed laat belowe dat ek nie sou toelaat dat Isak met een van die Kanaänitiese meisies trou waar hy woon nie.

38. ‘Gaan liewer na my familie toe en kry daar ’n vrou vir my seun,’ het hy beveel.

39. “‘Maar sê nou ek kan nie ’n meisie kry wat bereid is om saam met my terug te gaan nie?’ het ek gevra.

40. ‘Jy sal,’ het hy gesê, ‘want die Here voor wie ek lewe, sal sy engel saam met jou stuur sodat jou sending suksesvol sal wees. Jy moet beslis onder my bloedverwante, uit my pa se mense, ’n vrou vir my seun kry.

41. Maar as jy na my bloedverwante gaan en hulle weier dat sy kom, sal hierdie eed jou nie meer bind nie.’

42. “Vanmiddag, toe ek by die fontein aankom, het ek so gebid: ‘O Here, God van my meester Abraham, laat my tog asseblief slaag.

43. Hier staan ek nou by die fontein. Ek sal vir ’n meisie wat kom water haal, vra: ‘Gee my asseblief water om te drink!’

Genesis 24