7. Daarna loop hy vinnig na die beestrop toe en kies ’n vet jaaroudkalf en beveel ’n dienskneg om dit gou te slag en voor te berei.
8. Toe die kos gereed was, het hy botter en melk saam met die gaar vleis aan hulle voorgesit. Terwyl hulle eet, het Abraham by hulle onder die boom bly staan om hulle te bedien.
9. “Waar is Sara, jou vrou?” vra hulle hom.“In die tent,” antwoord Abraham.
10. Toe sê een van hulle: “Omtrent hierdie tyd volgende jaar sal ek weer terugkom. Jou vrou Sara sal dan al ’n seun hê.”Sara het by die ingang van die tent agter hom gestaan en afluister.
11. Omdat sowel Abraham as Sara bejaard was en Sara reeds verby die ouderdom was dat sy kinders kon kry,
12. het sy by haarself gelag. “Hoe kan ’n ou vrou soos ek nog sulke plesier ervaar?” het sy gedink. “En dit nogal met my man wat oud is!”
13. Daarop sê die Here vir Abraham: “Hoekom het Sara gelag? Hoekom het sy gesê: ‘Kan ’n bejaarde vrou soos ek regtig ’n kind in die wêreld bring?’
14. Is daar enigiets wat te moeilik is vir die Here? Ek sal oor ’n jaar terugkom en dan sal Sara ’n seun hê.”
15. “Nee, ek het nie gelag nie!” antwoord sy, want sy was bang. Maar Hy sê: “Dit is nie waar nie. Jy hét gelag.”
16. Ná ete het die mans opgestaan en in die rigting van Sodom gestap. Abraham het ’n entjie saamgeloop om hulle af te sien.
17. “Ek kan tog nie my voorneme vir Abraham wegsteek nie!” sê die Here.
18. “Abraham sal sekerlik ’n groot en magtige nasie word, en al die volke op aarde sal in hom geseën word.