3. Toe ons nog geestelik minderjarig was, het ons die magte van die wêreld soos slawe gedien.
4. Maar in die volheid van die tyd het God sy Seun gestuur. Hy is uit ’n vrou gebore, onder die wet,
5. sodat Hy hulle wat onder die wet is, kan vrykoop, ja, sodat ons tot kinders aangeneem kan word.
6. En omdat julle sy kinders is, het God die Gees van sy Seun gestuur om in ons te lewe. Die Gees in ons roep voortdurend na God: “Abba!” – wat die Aramese woord is vir “Vader”.
7. Jy is dus nie meer slaaf nie, maar kind. En as sy kind het God jou sy erfgenaam gemaak!
8. Toe julle God nog nie geken het nie, was julle slawe van gode wat nie regtig gode is nie.
9. Nou ken julle egter vir God, of eerder: God ken julle. Hoe is dit dan moontlik dat julle weer na die patetiese en armsalige magte van die wêreld wil terugkeer om hulle soos slawe te dien?
10. Julle hou aan om spesiale dae, maande, seisoene en jare te vier!
11. Ek is bekommerd oor julle. Al my harde werk onder julle was dalk verniet.
12. Broers en susters, ek pleit by julle: Word soos ek, want ek is ook soos julle. Julle het my nooit enige kwaad aangedoen nie.
13. Julle onthou mos nog die eerste keer toe ek die Goeie Nuus aan julle verkondig het. Ek het na julle gekom terwyl ek siek was.
14. Hoewel my siekte vir julle ’n beproewing was, het julle nie vir my gegril of my vermy nie. Inteendeel, julle het my ontvang asof ek ’n engel, ja, asof ek Christus Jesus self was.
15. Julle het julleself destyds as bevoorreg beskou. Wat het dan nou gebeur? Ek kan regtig daarvan getuig dat julle, as dit moontlik was, selfs julle oë sou uitgeruk het om hulle vir my te gee.
16. Het ek nou vir julle ’n vyand geword omdat ek julle eerlik die waarheid vertel?
17. Die ander mense wat skynbaar so baie ywer vir julle het, het nie goeie bedoelings nie. Hulle wil ’n wig tussen ons indryf sodat julle julle vir hulle saak sal beywer.
18. Dit is goed om jou vir ’n goeie saak te beywer. Maar doen dit dan altyd, en nie net as ek daar by julle is nie.
19. Ag, my kinders, totdat Christus in julle lewens vorm aanneem, het ek elke keer weer geboortepyne oor julle.
20. Ek wens dat ek op hierdie oomblik by julle kan wees en op ’n ander trant met julle kan praat, want ek is regtig bekommerd oor julle.