Esegiël 36:1-7 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

1. “Mensekind, profeteer teen Israel se berge. Sê vir hulle: Berge van Israel, hoor die woord van die Here!

2. So sê die oppermagtige Here: Jou vyande het met jou gespot: ‘Aha! Nou behoort die oeroue hoogtes uiteindelik aan ons!’

3. Daarom, mensekind, sê vir die berge van Israel die oppermagtige Here sê: Julle vyande het julle van alle kante aangeval en baie nasies het julle in besit geneem. Julle word bespot en beskinder.

4. Daarom, berge van Israel, hoor die woord van die oppermagtige Here. Die oppermagtige Here praat met die heuwels en berge, die klowe en valleie, en die puinhope en verlate stede wat deur al die nasies rondom julle vernietig en bespot is.

5. So sê die oppermagtige Here: Ek is woedend oor die res van die nasies, en veral oor Edom, want hulle het hulle daarin verlustig om my land vir hulleself as buit te vat.

6. “Daarom, profeteer aan die heuwels en berge, die klowe en valleie van Israel. Sê vir hulle die oppermagtige Here sê: Ek is baie kwaad omdat julle verneder is deur die nasies rondom julle.

7. Daarom, sê die oppermagtige Here, lê Ek ’n plegtige eed af dat hierdie nasies verneder sal word.

Esegiël 36