Eksodus 32:14-29 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

14. Die Here het toe afgesien van die ramp wat Hy oor sy volk wou bring.

15. Daarna het Moses omgedraai en van die berg afgeklim. Hy het die klippe waarop die verbond geskryf was in sy hand gehou. Dit was op albei kante, voor en agter, geskryf.

16. Dit was God se eie handewerk. Hy het self daarop geskryf.

17. Toe Josua hoor hoe die volk tekere gaan, het hy vir Moses gesê: “Dit klink of daar oorlog in die kamp is!”

18. Moses het geantwoord: “Nee, dis nie die gejuig van oorwinning nie; ook nie die gekerm van verloorders nie. Dis die lawaai van feesviering wat ek hoor!”

19. Toe hulle nader aan die kamp kom, het Moses die kalf en die gedansery gesien. Hy het so kwaad geword dat hy die klippe op die grond neergegooi het. Dit het daar by die voet van die berg in stukke gebreek.

20. Hy het toe die beeld van die kalf wat hulle gemaak het in die vuur gegooi. Toe dit afgekoel het, het hy dit fyngemaal. Hy het die poeier in water gegooi en die Israeliete gedwing om dit te drink.

21. Hy vra toe vir Aäron: “Wat het die volk dan aan jou gedoen dat jy hulle so ’n groot sonde laat doen het?”

22. “Moenie kwaad word nie,” het Aäron geantwoord. “Jy weet self hoe gereed is hierdie volk om kwaad te doen.

23. Hulle het vir my kom sê: ‘Maak vir ons ’n god wat ons kan lei. Ons weet nie wat geword het van hierdie Moses wat ons uit Egipte gelei het nie.’

24. Ek het toe vir hulle gesê: ‘Haal af julle goue oorringe en bring dit vir my.’ Ek het dit by hulle gevat en in die vuur gegooi en siedaar, hierdie kalf kom toe uit die vuur!”

25. Moses het besef dat Aäron toegelaat het dat die volk hand uitruk. Hulle was ’n bespotting vir hulle vyande.

26. Moses het by die ingang van die laer gaan staan en hardop uitgeroep: “Almal wat aan die Here se kant is, kom staan hier by my!” Al die Leviete het by hom gaan staan.

27. Hy het vir hulle gesê: “Die Here, die God van Israel, sê: ‘Elkeen moet sy swaard vat en van hoek tot kant almal in die kamp doodmaak, of dit nou broer, vriend of familielid is.’”

28. Die Leviete het net so gemaak soos Moses gesê het. Ongeveer 3 000 mans het daardie dag gesterf.

29. Moses het toe vir die Leviete gesê: “Julle het vandag julleself aan die Here toegewy. Julle het gedoen wat Hy gesê het, selfs al het dit beteken dat julle julle eie seuns en broers moes doodmaak. Die Here sal julle seën.”

Eksodus 32