22. “Hierdie tweede ram word gebruik om Aäron en sy seuns in te seën. Sny die vet van die ram uit, ook die vet aan sy binnegoed, sy vetstert, die punt van die lewer, die twee niere met die vet oor hulle en die regterboud.
23. Uit die mandjie wat voor die Here gebring is, moet jy een van die brode, ’n stuk plaatkoek waarin olyfolie is, en van die wafels waaroor olie gegooi is, neem.
24. Laat Aäron en sy seuns hulle hande hou en sit dit alles in hulle hande. Hulle moet dit dan uitsteek na die Here toe as ’n geskenk wat hulle vir die Here aanbied.
25. Vat dit daarna weer by hulle en verbrand dit op die altaar. Dit is ’n brandoffer wat vir die Here aanneemlik is.
26. Vat die borsstuk van die ram waarmee Aäron georden is en hou dit uit na die Here toe om dit aan Hom op te dra. Daarna mag jy dit vir jouself hou om te eet.
27. “Die heilige dele van die ram wat gebruik is om Aäron en sy seuns te orden, moet vir hulle eenkant gesit word. Dit is die borsstuk en die boud wat na die Here toe uitgesteek is en aan Hom opgedra is.
28. Voortaan sal hierdie dele na Aäron en sy afstammelinge gaan wanneer die mense van Israel ’n vrede-offer of dankoffer vir die Here bring.
29. “Aäron se spesiale klere moet ook gebruik word wanneer sy opvolgers in sy plek gesalf en in hulle amp bevestig word.
30. Die seun van Aäron wat hom opvolg, moet hierdie klere sewe dae lank aanhou wanneer hy in die tabernakel ingaan en in die heiligdom met sy werk begin.
31. “Vat die vleis van die ram wat tydens die bevestiging gebruik is en maak dit gaar by ’n plek wat daarvoor eenkant gesit is.