Eksodus 16:6-15 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

6. Moses en Aäron het vir die Israeliete gesê: “Teen vanaand sal julle weet dat dit die Here self is wat julle uit Egipte laat wegtrek het.

7. Môre-oggend sal julle sien hoe groot die Here is. Hy het gehoor hoe julle oor Hom kla. Dis eintlik teen Hóm wat julle so uitvaar en nie teen ons nie.”

8. Moses het ook gesê: “Omdat die Here gehoor het hoe julle oor Hom kla, sal Hy teen die aand vir julle vleis gee om te eet en soggens brood om van versadig te word. Dit was eintlik teen die Here wat julle gepraat het, nie teen ons nie.”

9. Moses sê toe vir Aäron: “Gaan sê vir die Israeliete: ‘Kom voor die Here bymekaar, want Hy het gehoor wat julle teen Hom sê.’”

10. Terwyl Aäron besig was om met hulle te praat, het hulle na die woestyn toe gedraai. Hulle kon in die wolkkolom wat voor hulle uitgegaan het, sien hoe groot God is.

11. Die Here het toe vir Moses gesê:

12. “Ek het die gekla van die volk gehoor. Sê vir hulle: ‘Julle sal teen skemer vleis hê om te eet en môre-oggend brood om van versadig te word. Julle sal dan weet dat Ek die Here julle God is.’”

13. Teen die aand het daar kwartels aangevlieg gekom en oral in die laer gaan sit. Die volgende oggend het daar dou reg rondom die kamp gelê.

14. Toe die dou later die dag verdwyn, was die grond van die woestyn bedek met fyn vlokkies wat soos ryp lyk.

15. Die Israeliete was verwonderd toe hulle dit sien. Hulle het vir mekaar gevra: “Wat is dit hierdie?” want hulle het dit nie geken nie. Moses antwoord hulle: “Dit is die kos wat die Here vir julle gee om van te eet.

Eksodus 16