14. Toe het die Here vir Moses gesê: “Die dag van jou dood is naby. Roep vir Josua en neem hom saam met jou na die tabernakel en daar sal Ek hom sy opdragte gee.” Moses en Josua het toe na die tent van ontmoeting gegaan.
15. Die Here het by die ingang van die heilige tent in ’n wolkkolom aan hulle verskyn.
16. Die Here sê toe vir Moses: “Jou tyd het gekom om by jou voorouers aan te sluit. As jy eers weg is, gaan hierdie volk vreemde gode begin aanbid, die gode van die land waarheen hulle nou gaan. Hulle gaan My verlaat en die verbond verbreek wat Ek met hulle gesluit het.
17. Dan sal my woede teen hulle ontbrand. Ek sal hulle verlaat, my gesig vir hulle wegsteek sodat hulle agteruitgaan. In daardie tyd sal ellende en rampe hulle tref sodat hulle sal sê: ‘Hierdie swaarkry het oor ons gekom omdat God nie meer by ons is nie!’
18. Ek sal dan nie meer aan hulle verskyn nie weens al die sondes wat hulle gedoen het deur ander gode te aanbid.
19. “Skryf nou die woorde van hierdie lied neer en leer dit vir die volk Israel. Leer hulle om dit te sing sodat dit as ’n getuienis teen hulle kan dien.
20. Ek sal hulle in die land bring wat Ek aan hulle voorouers met ’n eed beloof het. Dit is ’n vrugbare land. Hulle sal voorspoedig wees daar, met genoeg om te eet en te floreer. Dan sal hulle begin om ander gode te aanbid. Hulle sal My verag en my verbond verbreek.
21. Wanneer daar groot rampe oor hulle kom, sal hierdie lied ’n getuienis teen hulle wees. Hulle nageslagte sal dit nooit vergeet nie. Ek weet wat in hierdie volk se binneste aangaan, selfs nog voordat hulle die land binnegekom het wat Ek met ’n eed aan hulle beloof het.”
22. Op daardie selfde dag nog het Moses die woorde van die lied neergeskryf en dit vir die Israeliete geleer.
23. Die Here het toe vir Josua, die seun van Nun, soos volg beveel: “Wees sterk en hou moed! Jy moet die Israeliete inbring in die land wat Ek met ’n eed aan hulle beloof het. Ek sal by jou wees.”