Deuteronomium 15:7-17 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

7. “As daar in een van die dorpe in die land wat die Here jou God aan jou gee ’n arm Israeliet is, een van jou broers, moenie ongevoelig wees en jou hand vir hom toehou nie.

8. Maak jou hand vir hom oop en leen vir hom wat hy ook al nodig het.

9. Moenie slegte gedagtes koester en iemand ’n lening weier net omdat die sewende jaar van kwytskelding naby is nie. As jy weier om aan so ’n persoon iets te leen en die persoon in nood na die Here roep, sal jy skuldig wees aan sonde.

10. Gee gewillig sonder om gebelgd daaroor te voel en die Here jou God sal jou seën in alles wat jy doen.

11. Daar sal altyd arm mense in die land wees. Daarom beveel ek jou om jou hand oop te maak vir jou mede-Israeliet wat arm en behoeftig is.”

12. “As ’n mede-Israeliet, man of vrou, vrywillig jou slaaf geword het en ses jaar vir jou gewerk het, moet jy so iemand in die sewende jaar vrylaat.

13. “As jy hom vrylaat, moet jy hom of haar nie met leë hande wegstuur nie.

14. Gee vir so ’n persoon ’n groot afskeidsgeskenk uit jou diere, jou graan op die dorsvloer en van jou wyn in jou parskuip. Deel met hom of haar uit die oorvloed waarmee die Here jou God jou geseën het.

15. Onthou dat jy ook ’n slaaf was in Egipte en dat die Here jou God jou bevry het. Dit is waarom ek hierdie bevel vandag aan jou gee.

16. Veronderstel jou slaaf sê vir jou: ‘Ek wil nie weggaan nie’ omdat hy jou en jou familie leer liefkry het en omdat dit vir hom goed is by jou,

17. moet jy ’n els neem en dit deur sy oorlob teen die deur steek. Dan sal hy lewenslank jou slaaf wees. Dieselfde geld ook vir jou slavinne.

Deuteronomium 15