Deuteronomium 15:2-15 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

2. Dit is hoe dit gedoen moet word: Krediteure moet lenings aan mede-Israeliete afskryf. Hulle mag nie betaling van hulle bure of familie eis nie, want die Here se tyd van kwytskelding het aangebreek.

3. Hierdie kwytskelding van skuld geld slegs vir julle mede-Israeliete en nie vir die vreemdelinge wat onder julle woon nie.

4. Daar behoort niemand by jou te wees wat arm is nie, want die Here sal jou voorspoedig maak in die land wat Hy aan jou as ’n besondere erfdeel gee.

5. Jy sal seën ontvang as jy die opdragte van die Here jou God wat ek vandag vir jou gee, noukeurig gehoorsaam.

6. Die Here jou God sal jou seën soos Hy belowe het. Jy sal aan baie nasies geld uitleen, maar nooit self hoef te leen nie. Jy sal oor baie nasies heers, maar hulle sal nie oor jou heers nie!

7. “As daar in een van die dorpe in die land wat die Here jou God aan jou gee ’n arm Israeliet is, een van jou broers, moenie ongevoelig wees en jou hand vir hom toehou nie.

8. Maak jou hand vir hom oop en leen vir hom wat hy ook al nodig het.

9. Moenie slegte gedagtes koester en iemand ’n lening weier net omdat die sewende jaar van kwytskelding naby is nie. As jy weier om aan so ’n persoon iets te leen en die persoon in nood na die Here roep, sal jy skuldig wees aan sonde.

10. Gee gewillig sonder om gebelgd daaroor te voel en die Here jou God sal jou seën in alles wat jy doen.

11. Daar sal altyd arm mense in die land wees. Daarom beveel ek jou om jou hand oop te maak vir jou mede-Israeliet wat arm en behoeftig is.”

12. “As ’n mede-Israeliet, man of vrou, vrywillig jou slaaf geword het en ses jaar vir jou gewerk het, moet jy so iemand in die sewende jaar vrylaat.

13. “As jy hom vrylaat, moet jy hom of haar nie met leë hande wegstuur nie.

14. Gee vir so ’n persoon ’n groot afskeidsgeskenk uit jou diere, jou graan op die dorsvloer en van jou wyn in jou parskuip. Deel met hom of haar uit die oorvloed waarmee die Here jou God jou geseën het.

15. Onthou dat jy ook ’n slaaf was in Egipte en dat die Here jou God jou bevry het. Dit is waarom ek hierdie bevel vandag aan jou gee.

Deuteronomium 15