18. Julle moet dit daar in die teenwoordigheid van die Here julle God gaan eet op die plek wat die Here julle God sal kies. Eet die offers saam met julle kinders, julle werknemers en die Leviete wat in julle dorpe woon. Juig voor die Here julle God oor alles wat julle doen.
19. Wees versigtig om nie die Leviete te vergeet so lank as wat julle in julle land lewe nie.
20. “Wanneer die Here julle God julle grondgebied vergroot soos Hy beloof het, mag julle vleis eet waar en wanneer julle wil.
21. Dit kan wees dat die plek wat die Here julle God kies om sy Naam te laat eer, ver weg van julle huis is. As dit so is, mag julle enige van die beeste of skape wat die Here vir julle gegee het, slag. Jy mag die vleis by jou huis eet soos jy beveel is.
22. Enigeen, rein of onrein, mag die vleis eet, net soos wat julle nou maak met ’n ribbok of takbok.
23. Die enigste beperking is dat julle nooit die bloed mag eet nie, want die bloed is die lewe en julle mag nie die lewe saam met die vleis eet nie.
24. In plaas daarvan moet julle die bloed op die grond uitgooi soos water.
25. Moenie die bloed eet nie, dan sal alles goed gaan met jou en jou kinders omdat julle doen wat reg is vir die Here.
26. Bring julle heilige gawes en julle gelofte-offers na die plek toe wat die Here sal kies.
27. Julle moet die vleis en die bloed van julle brandoffers op die altaar van die Here julle God offer. Die bloed van julle ander offers moet teen die kant van die altaar van die Here julle God uitgegooi word, maar van die vleis mag julle eet.
28. Wees versigtig om al die gebooie te gehoorsaam wat ek vir julle gee, sodat dit altyd goed mag gaan met jou en jou kinders omdat julle doen wat reg is vir die Here julle God.
29. “Wanneer die Here julle God die nasies vernietig en julle hulle uitdryf en hulle land in besit neem,
30. moenie in die valstrik trap deur hulle voorbeeld te volg om ander gode te aanbid nie. Moet liewer nie vra: ‘Hoe aanbid hierdie nasies hulle gode dat ek ook so kan doen?’ nie.
31. Julle mag nie die Here julle God op dieselfde manier aanbid nie. Hierdie nasies doen in die naam van hulle gode afskuwelike dinge wat die Here haat. Hulle verbrand selfs hulle seuns en dogters as offers vir hulle gode.
32. Gehoorsaam al die gebooie wat ek aan julle gee noukeurig. Moenie iets daaraan byvoeg of iets daarvan wegvat nie.”