Deuteronomium 11:7-24 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

7. Maar julle het met julle eie oë al hierdie magtige dade van die Here aanskou!”

8. “Daarom, gehoorsaam elke gebod wat ek julle vandag gee sodat julle sterk kan wees om in te gaan en die land in besit te neem wat julle nou binnegaan.

9. As julle gehoorsaam is, sal julle ’n lang lewe geniet in die land wat die Here vir julle voorouers en hulle nageslag gesweer het dat Hy dit aan hulle sal gee. Dit is ’n uiters vrugbare land.

10. Die land wat julle nou binnegaan en in besit gaan neem, is nie soos Egipte waar julle vandaan kom nie. Daar moes julle julle saad plant en met julle voete leivore maak om dit nat te lei soos in ’n groentetuin.

11. Dit is ’n land met berge en valleie met baie reën van bo.

12. Dit is ’n land waarvoor die Here jou God sorg. Dag vir dag, dwarsdeur die jaar, hou Hy sy oog op die land!

13. “As julle al die gebooie wat ek vandag vir julle gee, noukeurig gehoorsaam, en as julle die Here julle God met hart en siel liefhet en Hom dien,

14. sal Hy vir julle reën gee op die regte tyd sodat julle koring, druiwe vir wyn en olywe vir olie kan oes.

15. In die veld sal Hy weiding voorsien vir julle diere sodat julle oorgenoeg kan hê om te eet.

16. “Wees versigtig om nie verlei te word en weg te draai van die Here om ander gode te aanbid nie.

17. As julle dit doen, sal die woede van die Here teen julle ontvlam. Hy sal die hemel toesluit sodat dit nie reën nie en julle oeste misluk. Dan sal julle gou omkom in die goeie land wat die Here aan julle gee.

18. Verbind julleself heelhartig aan hierdie woorde van die Here. Bind die woorde aan julle hande as ’n herinneringsteken en dra dit as ’n teken op julle voorkoppe.

19. Leer dit vir jou kinders. Praat met hulle daaroor by die huis en wanneer jy op pad is, wanneer jy gaan lê en wanneer jy weer opstaan.

20. Skryf dit op die deurkosyne van jou huis en op jou stadspoorte.

21. Dan sal julle en julle nageslag lank, so lank as wat die hemel bo die aarde is, kan bly in die land wat die Here aan julle voorouers belowe het.

22. “Gehoorsaam noukeurig al hierdie gebooie wat ek vir julle gee deur die Here julle God lief te hê, volgens sy wil te lewe en Hom aan te hang.

23. Dan sal die Here al hierdie nasies voor julle uitdryf en julle sal hulle land oorvat al is hulle groter en sterker as julle.

24. Op elke plek waar julle julle voete neersit, sal dit julle s’n word. Julle grense sal strek van die woestyn in die suide tot by die Libanon in die noorde, van die Eufraatrivier in die ooste tot by die Middellandse See in die weste.

Deuteronomium 11