2 Samuel 24:3-10 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

3. Maar Joab het die koning geantwoord: “Mag die Here u God in u leeftyd nog die volk honderd maal meer maak as nou! Maar watter bevrediging kan dit u verskaf?”

4. Die koning het egter Joab en sy offisiere verplig. Hulle het toe gegaan om die volk Israel te gaan tel.

5. Hulle het deur die Jordaanrivier gegaan en begin by Aroër suid van die dorp by die droë waterloop. Daarvandaan is hulle na Gad en Jaeser toe.

6. Hulle het Gilead deurgegaan tot by die land anderkant Kades en Dan, en daarvandaan verby Sidon.

7. Daarna het hulle by die vesting van Tirus en al die stede van die Hewiete en Kanaäniete langs gekom. Toe het hulle na die suide van Juda, so ver as Berseba, gegaan.

8. Hulle het die hele land deurkruis en hulle opdrag na nege maande en twintig dae voltooi en na Jerusalem toe teruggekeer.

9. Joab het aan die koning verslag gedoen oor die sensus. Daar was 800 000 manne van weerbare ouderdom in Israel en 500 000 in Juda.

10. Nadat Dawid die sensusopname laat maak het, het sy gewete hom begin pla. Hy bely toe teenoor die Here:“Ek het swaar gesondig met wat ek gedoen het.Vergeef tog my oortreding, Here,want ek het ’n baie dwase ding gedoen.”

2 Samuel 24