5. Amasa het gegaan om Juda op te roep, maar hy het langer weggebly as die voorgeskrewe tyd.
6. Toe sê Dawid vir Abisai: “Nou sal Seba seun van Bikri ons meer moeilikheid gee as Absalom. Vat gou my manskappe en sit hom agterna voordat hy in ’n versterkte stad gaan wegkruip waar ons hom nie in die hande kan kry nie.”
7. Die manskappe van Joab het ook uitgetrek, asook die koning se Filistynse lyfwag en al die dapper krygers. Hulle het uit Jerusalem getrek om Seba agterna te sit.
8. Toe hulle by die groot klip in Gibeon kom, kom Amasa net daar aan. Joab het sy mantel aangehad, en bo-oor was sy swaard in die skede, vasgemaak aan die gordel oor sy heupe. Toe hy naderkom, het die swaard uitgeglip.
9. “Hoe gaan dit met jou, my broer?” sê Joab vir hom. Hy het hom met sy regterhand aan die baard gegryp asof hy hom wou soen.
10. Amasa het nie die swaard in sy ander hand raakgesien nie. Joab het hom toe daarmee deur sy onderlyf gesteek sodat sy ingewande op die grond uitgeval het. Dit was nie nodig om ’n tweede keer te steek nie. Joab en sy broer Abisai het toe vir Seba agtervolg.
11. Een van Joab se manne het daar bly staan en gesê: “Wie aan die kant van Joab is en wie vir Dawid is, kom agter Joab aan!”
12. Amasa het egter nog in die middel van die pad in sy bloed gelê en krul. Toe die man sien dat die soldate daar gaan bly staan, sleep hy Amasa uit die pad en gooi ’n kleed oor hom, want hy het besef dat elkeen wat verbykom daar sou stilstaan.
13. Met Amasa uit die pad, het almal saam met Joab vir Seba seun van Bikri agtervolg.
14. Intussen het Seba deur die gebied van al die stamme van Israel getrek tot by Abel Bet-Maäka. Die Beriete het bymekaargekom en hom tot in die stad gevolg.
15. Toe Joab met sy soldate daar aankom, het hulle Abel Bet-Maäka beleër. Hulle het ’n beleëringswal teen die stad gebou. Dit was alreeds tot teen die muur. Almal by Joab was besig om deur die dorp se muur te breek.