2 Samuel 2:20-32 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

20. Toe Abner omkyk, roep hy uit: “Is dit jy, Asael?”“Ja, dis ek,” antwoord hy.

21. “Draai weg van my af,” sê Abner. “Pak liewer een van die jonger manne en vat sy wapens.” Maar Asael het geweier en het volgehou om hom te agtervolg.

22. Abner het weer vir hom geskree: “Hou op om my te agtervolg! Hoekom moet ek jou doodmaak? Hoe sal ek weer jou broer Joab in die oë kan kyk?”

23. Maar Asael wou nie kopgee nie. Abner het toe sy spies agtertoe deur sy agtervolger Asael se maag gesteek sodat dit by sy rug uitgekom het. Hy het op die grond geval en gesterf. Elkeen wat daar verbygekom het, het gaan stilstaan by die plek waar Asael doodgemaak is.

24. Joab en Abisai het egter vir Abner bly agternasit. Teen sononder kom hulle aan by die heuwel Amma naby Gia op die pad na die wildernis van Gibeon.

25. Daar bo-op die rant het Abner se manskappe uit Benjamin hulle rondom Abner geskaar en stelling ingeneem.

26. Abner skree toe vir Joab: “Moet ons altyd ons verskille met die swaard oplos? Besef jy nie dit sal net tot bitterheid lei nie? Wanneer gaan jy vir jou manskappe sê hulle moet ophou om hulle broers te agtervolg?”

27. Joab antwoord: “So waar as wat God leef, as jy nie nou gepraat het nie, sou die manskappe eers teen die oggend opgehou het om hulle broers te agtervolg.”

28. Joab het toe op die ramshoring laat blaas en sy manskappe het die agtervolging van Israel gestaak.

29. Abner en sy manskappe het deur die nag met die Jordaanvallei langs getrek. Hulle het deur die Jordaanrivier gegaan en die oggend verder getrek totdat hulle by Maganajim aangekom het.

30. Toe Joab die agtervolging staak, het hy sy soldate bymekaargeroep. Benewens Asael het net negentien gekort.

31. Aan die kant van Abner het 360 man, almal uit Benjamin, gesneuwel.

32. Joab en sy manskappe het die liggaam van Asael na Betlehem toe geneem en hom in die familiegraf begrawe. Daarna het hulle die hele nag deur getrek en Hebron teen dagbreek bereik.

2 Samuel 2