2 Samuel 2:16-24 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

16. Maar elkeen het sy teenstander aan die hare gegryp en sy swaard deur die ander een se ribbes gesteek sodat almal van hulle gesterf het. Daarna is die plek die Veld van Swaarde genoem.

17. Daarna het die twee leërs mekaar aangeval. Teen die einde van die dag het Dawid se manskappe vir Abner en die leër van Israel verslaan.

18. Joab, Abisai en Asael, die drie seuns van Seruja, was ook daardie dag daar. Asael kon so vinnig soos ’n wildsbok hardloop,

19. en hy het Abner agternagesit. Hy het hom meedoënloos agtervolg.

20. Toe Abner omkyk, roep hy uit: “Is dit jy, Asael?”“Ja, dis ek,” antwoord hy.

21. “Draai weg van my af,” sê Abner. “Pak liewer een van die jonger manne en vat sy wapens.” Maar Asael het geweier en het volgehou om hom te agtervolg.

22. Abner het weer vir hom geskree: “Hou op om my te agtervolg! Hoekom moet ek jou doodmaak? Hoe sal ek weer jou broer Joab in die oë kan kyk?”

23. Maar Asael wou nie kopgee nie. Abner het toe sy spies agtertoe deur sy agtervolger Asael se maag gesteek sodat dit by sy rug uitgekom het. Hy het op die grond geval en gesterf. Elkeen wat daar verbygekom het, het gaan stilstaan by die plek waar Asael doodgemaak is.

24. Joab en Abisai het egter vir Abner bly agternasit. Teen sononder kom hulle aan by die heuwel Amma naby Gia op die pad na die wildernis van Gibeon.

2 Samuel 2