2 Samuel 17:10-26 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

10. Dan sal selfs die dapperstes van hulle bang word, selfs al het hulle die hart van ’n leeu. Onthou, die hele Israel weet u pa is baie dapper en dat sy manskappe heldhaftige krygers is.

11. “Ek beveel aan dat u die hele Israel, van Dan tot Berseba, oproep, ’n menigte so talryk soos die sand by die see. Dan moet u self die troepe lei.

12. Wanneer ons dan vir Dawid kry, waar hy ook al is, sak ons op hom toe soos dou op die grond val. Dan sal daar niks van hom of een van sy manne oorbly nie.

13. En as hy dalk na ’n stad toe vlug, kan die hele Israel toue gaan haal en die stad wegsleep tot in die naaste vallei sodat daar nie meer ’n klip oorbly nie.”

14. Toe sê Absalom en die leiers van Israel: “Gusai se raad is beter as dié van Agitofel.” Dis die Here wat gesorg het dat die goeie raad van Agitofel verydel word omdat die Here onheil oor Absalom wou bring.

15. Gusai het toe Sadok en Abjatar, die priesters, ingelig oor wat Agitofel gesê het en wat hy aanbeveel het. “Maak gou!” het hy gesê.

16. “Laat weet vir Dawid dat hy nie vannag by die driwwe na die woestyn moet oornag nie. Hy moet dadelik deurtrek, anders kan hy en sy hele leër uitgewis word.”

17. Jonatan en Agimaäs het by die Rogelfontein gewag. ’n Slavin het die boodskap vir koning Dawid aan hulle gebring, want iemand sou hulle dalk sien as hulle die stad binnegaan.

18. Maar ’n jong seun het hulle tog gesien en het vir Absalom gaan sê. Hulle het egter weggekom en hulle na ’n huis in Bagurim gehaas. Die man het ’n put in sy binneplaas gehad en hulle het daarin gaan wegkruip.

19. Die man se vrou het ’n doek oor die put gegooi en graan daarop gestrooi om in die son droog te word. Niemand sou hulle daar verwag nie.

20. Toe Absalom se manne daar aankom, vra hulle vir die vrou: “Waar is Agimaäs en Jonatan?”Sy het geantwoord: “Hulle het die spruit oorgesteek.” Absalom se manne het oral rond gesoek, maar kon hulle nie kry nie, en is terug na Jerusalem toe.

21. Toe hulle weer weg is, het die twee jong manne uit die put geklim en hulle na Dawid toe gehaas. “Julle moet vannag nog gou die Jordaanrivier oorsteek!” sê hulle. Hulle vertel toe wat Agitofel aanbeveel het.

22. Dawid en al sy mense het daardie nag nog deur die Jordaanrivier getrek sodat hulle almal teen dagbreek aan die ander kant was.

23. Intussen het Agitofel agtergekom dat sy advies nie aanvaar is nie. Hy het toe sy donkie opgesaal en na sy huis in sy tuisdorp gegaan. Daar het hy finale opdragte aan sy familie gegee en homself gaan ophang. Hy het gesterf en is in die familiegraf begrawe.

24. Dawid het by Maganajim aangekom. Absalom en die hele leër van Israel het deur die Jordaanrivier getrek.

25. Absalom het Amasa in Joab se plek as bevelvoerder van sy leër aangestel. Amasa was Joab se neef. Sy pa was Jeter, ’n Ismaeliet. Sy ma, Abigal dogter van Nagas, was ’n suster van Joab se ma Seruja.

26. Die leër van Israel en Absalom het in Gilead kamp opgeslaan.

2 Samuel 17