20. Hy het dit gedoen om ’n ander kant van die saak te stel. Maar u het wysheid soos ’n engel van God wat alles weet wat in die land gebeur!”
21. Die koning het Joab toe laat roep en sê vir hom: “Goed dan, ek sal maak soos jy vra. Gaan en bring die jong man Absalom terug.”
22. Joab het in eerbetoon voor die koning op die grond neergeval en gesê: “Die Here seën u. Nou weet ek dat u goedgesind is teenoor my, want u het my versoek toegestaan.”
23. Joab is na Gesur toe en het Absalom na Jerusalem toe teruggebring.
24. Maar die koning het beveel: “Absalom kan na sy huis toe gaan, maar hy mag nie voor my verskyn nie.” Absalom het na sy huis toe gegaan sonder om die koning te sien.
25. Daar was niemand in die hele Israel wat so aantreklik was en so bewonder is soos Absalom nie. Van sy kop tot sy tone het hy geen gebrek gehad nie.
26. Hy het sy hare een keer per jaar laat sny omdat dit te swaar geword het om te dra. Dit het meer as twee kilogram geweeg volgens die koninklike skaal.
27. Absalom het drie seuns en een dogter gehad. Die dogter se naam was Tamar, en sy was beeldskoon.