2 Samuel 13:17-34 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

17. Hy roep toe sy slaaf en beveel hom: “Smyt hierdie vrou hier uit en sluit die deur agter haar!”

18. Die slaaf het haar toe uitgeneem en die deur gesluit. Sy het ’n lang mantel gedra volgens die destydse gebruik vir die koning se dogters wat nog maagde was.

19. Tamar het stof op haar kop gegooi, die mantel stukkend geskeur, haar hand op haar kop gesit en hardop gehuil so ver sy gegaan het.

20. Haar broer Absalom het haar gevra: “Was Amnon by jou? Wees nou eers stil, my suster. Aangesien hy jou broer is, moet jy jou nie daaroor ontstel nie.” Daarna het Tamar as ’n eensame vrou in Absalom se huis gaan woon.

21. Toe koning Dawid hiervan hoor, was hy baie kwaad.

22. Hoewel Absalom nooit met Amnon hieroor gepraat het nie, het hy Amnon intens gehaat oor wat hy aan sy suster gedoen het.

23. Twee jaar later was Absalom besig om sy skape in Baäl-Gasor naby Efraim te laat skeer. Hy het al die seuns van die koning soontoe uitgenooi.

24. Hy het ook na die koning toe gegaan en gesê: “My skeerders is nou besig. Sal die koning en sy personeel asseblief saamkom om deel te neem aan die geleentheid?”

25. Die koning antwoord: “Nee, my seun. As ons almal gaan, sal dit vir jou ’n groot oorlas wees.” Alhoewel Absalom daarop aangedring het, wou die koning nie kom nie, maar het hom voorspoed toegewens.

26. “As u nie kan kom nie, kan my broer Amnon dan asseblief saamgaan?” vra Absalom.“Hoekom nou juis Amnon?” vra die koning.

27. Maar Absalom het by die koning daarop aangedring totdat hy ingestem het dat al sy seuns, insluitend Amnon, kon gaan.

28. Absalom het vir sy lyfwagte gesê: “Wag totdat Amnon dronk is. Wanneer ek die teken gee, moet julle hom doodmaak. Moenie bang wees nie. Ek is die een wat die bevel gegee het. Wees sterk en dapper.”

29. Die lyfwagte het met Amnon gemaak soos Absalom hulle beveel het en Amnon doodgemaak. Die ander seuns van die koning het elkeen op sy muil gespring en gevlug.

30. Terwyl hulle nog op pad terug was, het die gerug Dawid bereik: “Absalom het al u seuns doodgemaak sodat niemand oorgebly het nie!”

31. Die koning het opgestaan van sy troon, sy klere geskeur en op die grond neergeval. Sy onderdane by hom het ook hulle klere geskeur.

32. Maar Jonadab, seun van Dawid se broer Samma sê: “Nee, my heer, moenie dink al die seuns van die koning is doodgemaak nie. Dit is net Amnon wat dood is. Dit was duidelik dat Absalom dit lankal beplan het, sedert Amnon sy suster Tamar verkrag het.

33. Nee, die koning moenie die gerug ernstig opneem nie. Die seuns is nie almal dood nie. Dit is net Amnon wat dood is!”

34. Intussen het Absalom gevlug.Die wagter het opgekyk en ’n groot klomp mense sien aankom uit die rigting van Bet-Goron teen die kant van die heuwel.

2 Samuel 13