2 Kronieke 35:16-27 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

16. Die viering van die Paasfees van die Here is op dié manier daardie dag voltooi. Al die brandoffers is op die altaar van die Here gebring soos koning Josia beveel het.

17. Al die Israeliete teenwoordig het toe die Paasfees en die Fees van die Ongesuurde Brood sewe dae lank gevier.

18. Sedert die tyd van Samuel die profeet was daar nie weer so ’n groot Paasfees in Israel nie. Nie een van die konings van Israel het ooit so ’n Paasfees gevier soos Josia nie. Al die priesters en Leviete, die hele Juda en Israel en al die inwoners van Jerusalem het daaraan deelgeneem.

19. Hierdie Paasfees is in die agtiende jaar van Josia se regering gevier.

20. Nadat Josia die tempel herstel het, het koning Neko van Egipte met sy leër uit Egipte opgetrek om by Karkemis aan die Eufraatrivier te veg. Josia het met sy leër teen hom opgetrek.

21. Maar koning Neko het vir hom die volgende boodskap gestuur: “Daar is tog geen geskil tussen ons nie, koning van Juda! Ek wil nie vandag teen jou veg nie, maar net teen die huis met wie ek oorlog voer. God het gesê ek moet gou maak! Moenie inmeng met God wat met my is nie, want Hy sal jou vernietig.”

22. Josia wou egter nie omdraai nie, maar het homself vir die geveg vermom. Hy wou nie luister na die waarskuwing wat Neko op God se bevel gegee het nie. In die vlakte van Megiddo het hy die geveg begin.

23. Maar die vyandige boogskutters het koning Josia raakgeskiet. Hy roep toe sy lyfwagte: “Neem my weg uit die geveg, want ek is swaar gewond!”

24. Hulle het hom uit sy strydwa gehaal, in ’n ander strydwa gesit en hom teruggebring na Jerusalem toe. Daar het hy gesterf. Hy is in die familiegraf begrawe. Die hele Juda en Jerusalem het oor hom getreur.

25. Die profeet Jeremia het treurliedere oor Josia geskryf. Al die sangers en sangeresse het treurliedere oor Josia gesing. Tot vandag toe word die treurliedere nog gesing. Dit het ’n gebruik geword in Israel en is opgeteken in Die boek van treurliedere.

26. Die ander gebeurtenisse tydens Josia se regering en sy dade van getrouheid aan die voorskrifte van die Here,

27. van begin tot einde, is opgeteken in Die boek van die konings van Israel en Juda.

2 Kronieke 35