1. Josia het die Paasfees van die Here in Jerusalem gevier. Die paaslam is op die veertiende dag van die eerste maand geslag.
2. Josia het die priesters se pligte aan hulle toegewys en hulle bemoedig in hulle werk in die tempel van die Here.
3. Hy het die Leviete wat aan die Here gewy was, en wat die hele Israel onderrig het, beveel: “Sit die heilige ark nou in die tempel wat Salomo seun van Dawid, die koning van Israel, gebou het, dan is dit nie nodig om dit op julle skouers te dra nie. Dien nou die Here julle God en sy volk Israel.
4. Meld aan vir diens volgens die familiegroepe van julle voorouers. Volg die geskrewe voorskrifte van koning Dawid van Israel en die voorskrifte van sy seun Salomo.
5. Gaan staan dan in julle aangewese plekke in die heiligdom. Daar moet vir elke familiegroep van julle volksgenote ’n familie-afdeling Leviete wees.
6. Slag die paaslam, reinig julleself en berei dit voor vir julle volksgenote. Volg al die voorskrifte wat die Here deur Moses gegee het.”
7. Josia self het 30 000 skaaplammers en boklammers vir die volk se Paasfees gegee en ook nog 3 000 beeste uit die koninklike kudde.
8. Die koning se amptenare het ook vrywillig voorsien vir die volk, die priesters en Leviete. Gilkija, Sagaria en Jegiël, die hoofde van die tempel van God, het vir die priesters 2 600 skaaplammers en boklammers, asook 300 beeste as paasoffers gegee.
9. Kenanja en sy ampsgenote Semaja en Netanel, en Gasabja, Jeïel en Josabad, die leiers van die Leviete, het vir die Leviete 5 000 paasoffers en 500 beeste gegee.
10. Toe alles gereed was vir die Paasfees, het die priesters en Leviete hulle plekke ingeneem. Hulle is ingedeel volgens hulle afdelings soos die koning beveel het.
11. Die Leviete het toe die paaslammers geslag, die bloed aan die priesters gegee, en hulle het die bloed op die altaar gesprinkel terwyl die Leviete die diere voorberei het.
12. Hulle het die brandoffers eenkant gehou om aan die familiegroepe uit te deel sodat hulle dit aan die Here kon offer volgens die voorskrifte in die Boek van Moses. So het hulle ook met die beeste gedoen.
13. Daarna het hulle die paaslammers volgens die voorskrif oor vure gebraai. Die gewyde offers is in potte, kastrolle en skottels gekook en vir die lede van die volk gegee.