2 Kronieke 34:22-33 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

22. Gilkija en die mans wat die koning aangewys het, het na die profetes Gulda gegaan wat in die nuwe deel van Jerusalem gewoon het. Sy was die vrou van Sallum seun van Tikwa, seun van Gasra, die klerebewaarder.

23. Sy sê vir hulle: “Die Here die God van Israel het gepraat. Gaan vertel vir die man wat julle na my toe gestuur het:

24. ‘Dit is wat die Here sê: Ek sal onheil oor hierdie stad en sy inwoners bring. Al die vervloekings waarvan geskryf is in die boekrol wat aan die koning van Juda voorgelees is, sal plaasvind soos daar geskryf staan.

25. Want hulle het My verlaat en heidense gode aanbid sodat hulle My baie kwaad gemaak het vir hulle oor alles wat hulle gedoen het. My toorn sal uitgestort word oor hierdie plek, en niks sal My stuit nie.’

26. “Maar gaan na die koning van Juda wat julle gestuur het om die Here te raadpleeg en sê vir hom: ‘Dit is wat die Here, die God van Israel, sê oor die boodskap wat julle ontvang het.

27. Jy was spyt en het jou verootmoedig deur jou klere te skeur en het in berou voor My gehuil toe jy die woorde oor hierdie plek en sy inwoners gehoor het. Ek het jou gebed verhoor, sê die Here.

28. Ek sal nie die beloofde onheil oor hierdie stad en sy inwoners stuur voor jy gesterf het en in vrede begrawe is nie. Jy sal nie die rampe sien wat Ek oor hierdie plek gaan bring nie.’” Hulle het hierdie boodskap aan die koning gebring.

29. Die koning het al die leiers van Juda en Jerusalem opgeroep.

30. Hy het opgegaan na die tempel van die Here saam met al die inwoners van Juda en Jerusalem, die priesters en die Leviete, al die mense, groot en klein. Daar het die koning vir hulle die hele boek van die verbond voorgelees wat in die Here se tempel gekry is.

31. Die koning het by die pilaar, sy plek van gesag, gaan staan en die verbond in die teenwoordigheid van die Here hernu. Hy het ’n verbond met die Here gesluit en onderneem om sy opdragte, eise en voorskrifte met hart en siel te gehoorsaam deur die bepalings van die verbond na te kom soos dit in die boekrol geskryf is.

32. Hy het geëis dat elkeen in Jerusalem en Benjamin hulle ook daartoe verbind. Die inwoners van Jerusalem het so gedoen deur hulle verbond met God, die God van hulle voorouers, te hernu.

33. Daarna het Josia al die afskuwelike afgode uit die hele land van Israel verwyder en elkeen wat daar in Jerusalem byeen was, verplig om die Here hulle God te dien. Gedurende die res van sy lewe het hulle nie afgewyk van die eise van die Here die God van hulle voorouers nie.

2 Kronieke 34