14. Die soldate het toe die gevangenes vrygelaat en die buit in die teenwoordigheid van al die leiers en die vergadering teruggegee.
15. Toe het die vier gemelde persone vorentoe gekom en uit die buit klere gegee aan die gevangenes wat naak was. Hulle het klere en skoene, kos en water vir hulle gegee, en hulle wonde met olie behandel. Almal wat swak was, het hulle op donkies gelaai en die gevangenes na hulle eie land, na Jerigo die palmstad, tot by hulle eie mense weggebring. Daarna het hulle na Samaria toe teruggegaan.
16. Omtrent hierdie tyd het koning Agas van Juda die koning van Assirië se hulp gevra teen sy vyande.
17. Die leërs van Edom het Juda weer binnegeval en gevangenes geneem.
18. Die Filistyne het strooptogte uitgevoer op dorpe in die Laeveld van Juda en in die Negevwoestyn. Hulle het reeds Bet-Semes, Ajalon, Gederot, Soko met sy buitedorpies, Timna met sy buitedorpies, en Gimso met sy buitedorpies beset en daar gaan woon.
19. Die Here was besig om Juda te verneder oor koning Agas van Juda, want hy het Juda aangemoedig om te sondig en was heeltemal ontrou aan die Here.
20. Toe koning Tiglat-Pileser van Assirië daar aankom, het hy koning Agas onderdruk, in plaas daarvan om hom te help.
21. Agas vat toe waardevolle voorwerpe uit die tempel van die Here, die koninklike paleis en uit die huise van sy amptenare en gee dit vir die koning van Assirië. Maar selfs dit het hom niks gehelp nie.
22. Toe dit so sleg met hom gaan, het hy nog meer ontrou aan die Here geword.
23. Hy het offers gebring aan die gode van Damaskus wat hom verslaan het, “want,” het hy gesê, “hierdie gode het die konings van Aram gehelp en sal my ook help as ek vir hulle offerandes bring.” Maar hulle was sy ondergang en ook dié van die hele Israel.
24. Die koning het die voorwerpe uit die tempel van God weggeneem en dit stukkend geslaan. Hy het die deure van die Here se tempel gesluit. Hy het ook heidense altare op elke straathoek in Jerusalem opgerig.
25. Verder het hy in al die dorpe van Juda heidense heiligdomme opgerig waar offers aan die afgode gebring kon word. Dit het die toorn van die Here, die God van sy voorouers, uitgetart.
26. Die ander gebeurtenisse tydens Agas se regering en al sy dade, van begin tot einde, is opgeteken in Die boek van die konings van Juda en Israel.