2 Kronieke 25:6-12 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

6. Hy het ook met sowat drie en ’n half ton silwer nog 100 000 ervare soldate uit Israel gehuur.

7. Maar ’n man van God het na die koning gekom en gesê: “O koning, moenie soldate van Israel huur nie, want die Here is nie met Israel nie. Hy sal nie die mense van Efraim help nie.

8. As jy hulle saam met jou soldate in die geveg laat deelneem, sal julle verslaan word, maak nie saak hoe dapper hulle veg nie, want God het die mag om te help of om omver te werp.”

9. Amasia vra toe vir die man van God: “Maar wat dan van die drie en ’n half ton silwer wat ek betaal het om die soldate van Israel te huur?”Die man van God antwoord hom: “Die Here is in staat om baie meer as dit te gee!”

10. Amasia het toe die gehuurde troepe ontslaan en teruggestuur na Efraim toe. Hulle was baie kwaad vir Juda en is woedend huis toe.

11. Nogtans het Amasia moed bymekaargeskraap en sy leër na die Soutvallei gelei. Daar het hulle 10 000 Edomiete van Seïr doodgemaak.

12. Hulle het ook 10 000 van hulle gevang en van ’n krans afgegooi sodat hulle hulle onder op die rotse te pletter geval het.

2 Kronieke 25