2 Kronieke 20:1-9 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

1. Hierna het die Moabiete, Ammoniete en sommige van die Meüniete oorlog teen Josafat verklaar.

2. Boodskappers het gekom en vir Josafat vertel: “’n Groot leër van Edom trek op teen u van anderkant die Dooie See. Hulle is alreeds by Gaseson-Tamar, dit is En-Gedi.”

3. Josafat was baie ontsteld oor hierdie nuus en het vir die Here raad gevra. Hy het ook beveel dat elkeen in Juda moet vas.

4. Die mense het van al die dorpe in Juda na Jerusalem toe gekom om die Here se hulp te soek.

5. Josafat het opgestaan in die vergadering van die mense van Juda en Jerusalem voor die nuwe voorhof in die tempel van die Here.

6. Hy het gebid: “Here, God van ons voorouers, is U nie die God wat in die hemel is nie? U is die heerser oor al die koninkryke op die aarde. U is kragtig en magtig. Niemand kan teen U staande bly nie.

7. Ons God, het U nie die inwoners van hierdie land voor u volk Israel uitgedryf nie? Het U nie die land vir altyd aan die nageslag van u vriend Abraham gegee nie?

8. U volk het hier kom woon en hierdie tempel vir U gebou.

9. Hulle het gesê: ‘As ons bedreig word met rampspoed soos oorlog, siekte of hongersnood, sal ons kom staan in u teenwoordigheid voor hierdie tempel waar u Naam vereer word. Ons sal tot U roep uit ons ellende, en U sal ons hoor en ons verlos.’

2 Kronieke 20