2 Konings 19:1-12 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

1. Toe koning Hiskia dit hoor, skeur hy sy klere, trek rouklere aan en gaan na die Here se tempel toe.

2. Daarna stuur hy die paleisbestuurder Eljakim, die staatsekretaris Sebna en die leierpriesters, almal met rouklere aan, na die profeet Jesaja seun van Amos.

3. Hulle het hom vertel: “So sê koning Hiskia: Dit is ’n dag van benoudheid, teregwysing en skande. Dit is soos ’n kind wat gereed is om gebore te word, maar die moeder het geen krag om geboorte te gee nie.

4. Maar miskien het die Here jou God gehoor hoe die hoofadjudant van die Assiriese koning die lewende God gespot het. Dalk sal die Here jou God hom straf oor wat Hy gehoor het. Bid tog vir ons wat nog oorgebly het!”

5. Nadat koning Hiskia se amptenare die boodskap by Jesaja afgelewer het,

6. antwoord die profeet: “Sê vir julle koning: Dit is wat die Here sê: ‘Moenie bang wees oor die woorde van die boodskappers van die Assiriese koning, en hoe hulle My belaster het nie.

7. Luister! Ek sal teen hom optree sodat die koning ’n gerug sal kry en hy na sy land toe sal teruggaan. Dan sal Ek sorg dat hy daar met ’n swaard doodgemaak word.’”

8. Die hoofadjudant het toe na die koning van Assirië teruggegaan, maar gehoor dat hy vanaf Lakis verskuif het en besig was om Libna aan te val.

9. Kort daarna kry koning Sanherib van Assirië berig dat koning Tirhaka van Kus met ’n leër op pad is om hom aan te val. Voordat hy vertrek om die aanval te weerstaan, stuur hy die volgende brief met boodskappers aan Hiskia in Jerusalem:

10. “Hierdie boodskap is vir koning Hiskia van Juda. Moenie toelaat dat jou God op wie jy vertrou, jou mislei met beloftes dat die koning van Assirië nie Jerusalem sal inneem nie.

11. Jy weet alte goed wat die konings van Assirië gedoen het waar hulle ook al gegaan het. Hulle het elkeen wat in hulle pad was, vernietig! Hoekom sou jy dit vryspring?

12. Het die gode van ander nasies hulle kom red, nasies soos Gosan, Haran, Resef en die inwoners van Eden wat in Telassar was? My voorgangers het hulle almal vernietig!

2 Konings 19