4. “Wat jy ook al voorstel, sal ek vir jou doen,” sê Jonatan.
5. Dawid antwoord hom: “Kyk, dis môre nuwemaan. Ek behoort saam met die koning aan tafel te sit. Stuur my weg dat ek in die veld kan wegkruip tot die derde aand.
6. As jou pa oor my navraag doen, moet jy sê: ‘Dawid het dringend gevra om na sy tuisdorp Betlehem te gaan sodat hy daar die jaarlikse feesviering saam met sy familie kan vier.’
7. As hy sê: ‘Dis goed!’ beteken dit ek is veilig. Maar as hy baie kwaad word, moet jy weet dat hy reeds besluit het om my om die lewe te bring.
8. Wys dat jy aan my getrou is, want jy het voor die Here ’n verbond met my gesluit. As ek teen jou pa oortree het, moet jy my self doodmaak. Dit sal dan nie nodig wees om my aan jou pa uit te lewer nie.”
9. “Nooit!” sê Jonatan. “As ek seker is my pa het vas besluit om jou dood te maak, sal ek jou beslis daaroor inlig.”
10. Dawid vra toe: “Wie sal vir my vertel of jou pa kwaad geword het of nie?”
11. “Kom saam na die veld toe,” sê Jonatan. Hulle gaan toe saam daarheen.
12. Jonatan sê vir Dawid: “So waar as die Here die God van Israel leef, ek sal môre hierdie tyd of oormôre met hom praat. As hy gunstig oor jou praat, sal ek jou laat weet.
13. Indien nie, mag die Here met my afreken as ek jou nie waarsku en veilig wegstuur nie. Mag die Here met jou wees soos Hy by my pa was.
14. As ek dan nog lewe, moet jy my behandel met die troue liefde van die Here sodat ek nie doodgemaak word nie.
15. Wees getrou aan my familie, selfs wanneer die Here jou vyande een vir een van die aarde af wegvee.
16. Mag die huis van Dawid nie Jonatan se familie uitroei nie, anders sal die Here Dawid deur middel van sy vyande vergeld.”