8. Saul het gebrand van jaloesie, en die woorde was vir hom ’n belediging. Hy sê toe: “Aan Dawid het hulle tienduisende gegee, maar vir my net die duisende. Al wat hy nog kortkom, is die koningskap!”
9. Van daardie dag af het Saul vir Dawid gewantrou.
10. Die volgende dag het ’n bose gees wat deur God gestuur is, vir Saul beetgepak sodat hy in sy huis soos ’n besetene opgetree het. Dawid het weer op die lier begin speel soos hy gewoonlik gedoen het. Saul het egter ’n spies in sy hand gehad.
11. Toe gooi hy na Dawid met die spies en dink: “Ek sal Dawid teen die muur vaspen.” Maar Dawid het gekoes, ook vir ’n tweede keer.
12. Saul het bang geword vir Dawid omdat die Here by Dawid was, maar vir hom verlaat het.
13. Daarom het hy Dawid weggestuur en hom elders as hoof van ’n leërafdeling aangestel.
14. Dawid was suksesvol in alles wat hy gedoen het en die Here was met hom.
15. Toe Saul dit opmerk, was hy bang vir hom,
16. maar die hele Israel en Juda het van Dawid gehou omdat hy ’n suksesvolle aanvoerder was.
17. Saul sê toe vir Dawid: “Ek is van plan om my oudste dogter, Merab, vir jou as vrou te gee. Jy moet net jouself bewys en die oorloë van die Here veg.” Saul het gedink: “Ek moet hom nie self doodmaak nie, maar hom eerder teen die Filistyne stuur sodat hulle dit kan doen.”
18. Dawid sê egter vir Saul: “Wie is ek en wie is my familie in Israel dat ek die koning se skoonseun sal wees?”
19. Maar teen die tyd dat Saul sy dogter Merab aan Dawid moes gee, is sy aan Adriël, die Megolatiet, as vrou gegee.
20. Intussen het Saul se dogter Mikal op Dawid verlief geraak. Toe Saul dit hoor, was hy in sy skik daarmee.
21. Saul het gedink: “Ek sal haar vir hom gee sodat ek deur haar vir hom ’n lokval kan stel. Die Filistyne sal ook teen hom wees.” Daarop sê Saul die tweede keer vir Dawid: “Jy kan my skoonseun wees!”