1 Samuel 12:14-25 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

14. “As julle nou die Here dien, aanbid en na Hom luister; en as julle nie teen die Here se voorskrifte in opstand kom nie; as julle en julle koning die Here julle God navolg, dan sal alles met julle goed gaan.

15. Maar as julle teen die bevele van die Here in opstand kom en weier om Hom gehoorsaam te wees, dan sal die Here teen julle draai soos destyds met julle voorouers.

16. “Staan ’n bietjie stil en aanskou die groot ding wat die Here gaan laat gebeur.

17. Julle weet dit reën nie hierdie tyd van die jaar wanneer die koring geoes word nie. Ek sal die Here vra om vandag donderweer en reën te stuur. Dan sal julle besef dat julle gesondig het deur vir die Here ’n koning te vra!”

18. Toe roep Samuel die Here aan en die Here het donderweer en reën gestuur. Almal was met ontsag gevul vir die Here en vir Samuel.

19. “Bid tog tot die Here u God ter wille van ons, anders sal ons sterf!” smeek hulle vir Samuel. “Ons het nou nog toegevoeg tot ons sondes deur vir ’n koning te vra.”

20. “Moenie bang wees nie,” stel Samuel hulle gerus. “Julle het gewis verkeerd gedoen, maar maak nou seker dat julle die Here met volle toewyding aanbid en dat julle nie op enige wyse julle rug op Hom draai nie.

21. Moenie weer die nuttelose beelde aanbid nie. Hulle kan julle nie help of verlos nie. Hulle is totaal nutteloos!

22. Ter wille van sy grote Naam sal die Here nie sy volk verlaat nie. Hy het julle ’n besondere volk vir Homself gemaak.

23. “Wat my betref, ek sal sekerlik nie teen die Here sondig deur op te hou om vir julle te bid nie. Ek sal ook voortgaan om julle te leer wat goed en reg is.

24. Maar dien die Here in opregtheid. Dink aan al die groot dinge wat Hy vir julle gedoen het.

25. Maar as julle voortgaan om te sondig, sal julle en julle koning uitgewis word.”

1 Samuel 12