1 Samuel 10:15-21 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

15. “Is dit so,” sê sy oom. “Vertel my tog asseblief wat Samuel vir julle gesê het.”

16. “Hy het gesê dat die donkies alreeds gekry is,” antwoord Saul. Saul het egter stilgebly oor wat Samuel van die koningskap gesê het.

17. Samuel het die hele volk voor die Here by Mispa bymekaargeroep

18. en die volgende boodskap van die Here God aan die Israeliete oorgedra: “Ek het Israel uit Egipte gelei en julle gered uit die mag van Egipte en al die koninkryke wat julle verdruk het.

19. Hoewel Ek julle van al die onheil en ellende verlos het, het julle My verwerp en gesê: ‘Nee, ons wil liewer ’n koning hê!’ Kom stel julle nou op voor die Here volgens julle stamme en familiegroepe.”

20. Samuel het toe die stamleiers nadergeroep voor die Here en die stam van Benjamin is aangewys.

21. Toe het Samuel al die families in die stam van Benjamin nadergeroep voor die Here, en die familie van Matar is aangewys. Daarna is Saul, die seun van Kis aangewys. Maar toe hulle hom soek, kon hulle hom nie kry nie.

1 Samuel 10