14. “Maar wie is ek tog, en wie is my volk, dat ons enigiets vir U kan gee? Alles wat ons het, kom van U af, en ons gee vir U net dit wat U reeds vir ons gegee het!
15. Net soos ons voorouers is ons vreemdelinge en bywoners in die land. Ons dae op die aarde gaan soos ’n skaduwee verby, sonder enige verwagting.
16. “Here ons God, selfs hierdie boumateriaal wat ons ingesamel het om vir U ’n tempel te bou om u heilige Naam te eer, kom van U af. Dit behoort alles aan U!
17. Ek weet, my God, dat U ons harte ondersoek en opregtheid verlang. U weet dat ek dit alles met goeie motiewe geskenk het, en ek het ook gesien hoe u volk vrywillig en vreugdevol hulle geskenke gebring het.
18. “Here, God van ons voorouers Abraham, Isak en Israel, laat u volk altyd hierdie gesindheid behou. Laat hulle harte altyd getrou wees aan U.
19. Gee my seun Salomo die heelhartige begeerte om al u bevele, gebooie en beginsels te gehoorsaam, en om hierdie tempel te bou, waarvoor ek al hierdie voorbereidings getref het.”
20. Daarna het Dawid vir die hele vergadering gesê: “Prys nou die Here julle God!” Die hele vergadering het toe die Here, die God van hulle voorouers, geloof. Hulle het in eerbied voor die Here en die koning gekniel.
21. Die volgende dag het hulle 1 000 bulle, 1 000 ramme en 1 000 lammers as brandoffers aan die Here geoffer. Hulle het ook drankoffers en baie ander offers ter wille van die hele Israel gebring.
22. Hulle het in die Here se teenwoordigheid feesgevier en gedrink en was daardie dag vol vreugde.Hulle het weer vir Dawid se seun Salomo gekroon as hulle nuwe koning. Hulle het hom voor die Here gesalf as hulle heerser, en vir Sadok as hulle priester.
23. So het Salomo die troon in die plek van sy pa, Dawid, uit die hand van die Here ontvang. Dit het goed gegaan met hom, en die hele Israel het hom gehoorsaam.