21. Ek het ook ’n plek ingeruim vir die ark wat die verbond bevat wat die Here tydens die uittog uit Egipte met ons voorvaders gemaak het.”
22. Daarna het Salomo in die teenwoordigheid van die hele vergadering van Israel voor die altaar van die Here gaan staan en sy hande na die hemel toe uitgestrek.
23. Hy het gebid: “Here, God van Israel, in die hemel of op die hele aarde is daar geen God soos U nie. U bly getrou aan u verbond en het u troue liefde bly betoon aan almal wat U heelhartig met ywer dien.
24. U het u beloftes aan u dienaar, my pa Dawid, nagekom. U het die belofte met u eie mond gemaak, en vandag het U dit met u eie hande vervul.
25. En nou, Here, God van Israel, laat tog ook u beloftes aan u dienaar, my pa Dawid, waar word. Want U het vir hom gesê: ‘As jou afstammelinge voor My lewe soos jy geleef het, sal hulle altyd oor Israel regeer.’
26. Nou, God van Israel, bevestig tog hierdie beloftes aan u dienaar, my pa Dawid.
27. “Maar kan dit moontlik wees dat God op die aarde sou woon? Die hemel, selfs die hoogste hemel, kan U nie bevat nie. Wat nog te sê hierdie tempel wat ek vir U gebou het!
28. Luister tog na my gebed en smeking, Here my God. Luister na die roepstem en die gebed wat u dienaar vandag tot U rig.